Dokters mu00e1g dispenseer
Dokters mu00e1g dispenseer

Dokters mág dispenseer

'Geen wet kan dit verander'
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Daar het nog nooit ’n regsgrond bestaan vir enige mediese fonds om die uitbetaal van ’n eis te weier omdat dit uit die dispensering van medisyne voortspruit nie.

Laasgenoemde is gebaseer daarop dat die persoon wat die medisyne dispenseer nié in besit was van ’n dispenseringslisensie, soos deur Wet 13 van 2003 vereis word nie.

Mnr. Eben de Klerk het namens die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) gereageer op ’n hoërhofuitspraak ten gunste van die Mediese Vereniging van Namibië (MAN) dat sekere bepalings van die Medisyne en Verwante Middele Beheerwet (MRSCA) 13 van 2003 nietig en ongrondwetlik is.

Volgens De Klerk is ’n skrywe in dié verband deur die NPPF aan onder meer die Medisynebeheerraad (NMRC) en die Vereniging vir Namibiese Mediese Fondse (NAMAF) gerig.

Tot op hede het geen van dié partye volgens De Klerk bevestig dat dokters en tandartse nie meer ’n lisensie nodig het om medisyne te dispenseer nie.

Die NPPF het in sy skrywe gemaan die wetlike risiko lê nou by Namaf, die NMRC en mediese fondse solank as wat hulle nie uitbetalings vir medisyne maak nie.

Volgens De Klerk kan bogenoemde partye aanspreeklik gehou word indien bevind word hulle is die oorsaak dat ’n pasiënt skade ly omdat hy nie medisyne ontvang het nie en dit as gevolg van die toepassing van ’n lisensievereiste wat nie afdwingbaar is nie.

Intussen het die MAN sy verligting oor die gunstige uitspraak uitgespreek.

MAN het by monde van sy voorsitter, dr. David Weber, gesê die uitspraak bepaal dit is “ongrondwetlik om die NMRC toe te laat om dokters daarvan te weerhou om medisyne aan hul pasiënte te dispenseer”.

Volgens Weber kan geen wet dit in die toekoms verander nie.

“Dit stel enige mediese praktisyn wat by die Raad van Gesondheidsberoepe (HPCNA) geregistreer is, in staat om met onmiddellike effek medisyne te dispenseer.

"Dit is ongeag of die dokter voor die implementering van die wet gedispenseer het en of die dokter gevolglik by die HPCNA geregistreer het ná beperking wat ongrondwetlik toegepas is.”

MAN het sy lede vir hul “vertroue, belegging en geduld in die moeisame taak” bedank en was ook vol lof vir die insette en volharding van die organisasie se prokureurs en advokate, mnre. Francois Erasmus en Raymond Heathcote, en wyle me. Hanna Schneider.

Volgens Weber is die organisasie tans in gesprek met sy regspan sowel as die ministerie van gesondheid en maatskaplike welsyn oor die implementering van die uitspraak en gevolglike optrede.

'n Volbank regters het onder meer gesê hulle is nie van die regering se uitgangspunt oortuig dat, omdat dokters voor 1965 nie medisyne kon verkoop nie, dit nie deel van ’n mediese praktisyn se professie behoort te wees nie.

Volgens die uitspraak is die punt eerder die feit dat dié reg in 1965 toegestaan is en ononderbroke vir 43 jaar voortgeduur het.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer