Dokters is verdeeld oor skade-eis
Dokters is verdeeld oor skade-eis

Dokters is verdeeld oor skade-eis

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die Mediese Vereniging van Namibië (MAN) gaan nie betrokke raak by 'n groep dokters, wat verliese tydens die dispensasiesage gely het, se regsaksie nie.

Volgens MAN se voorsitter ­verteenwoordig die beplande vergoedingseis “'n faksie” van dokters en nie die meerderheid dokters in Namibië nie.



reg tot regsaksie

Volgens dr. David Weber het die Namibië Private Praktisynsforum (NPPF) wel die reg om regs­aksie te neem.

“MAN as die mandaat- en ­verantwoordelike party in die regsaksie met betrekking tot die reg om te dispenseer, sal nie toelaat dat sy naam of sy lede hierdeur besoedel word nie, omdat dit strydig met ons oortuiging is.”

In 'n verklaring sê Weber voortgesette gesprekke met die ministers van finansies, en gesondheid en maatskaplike dienste was positief en het bygedra tot die volhoubaarheid van mediese dienste in Namibië.



volhoubaarheid belangrik

“In die lig hiervan sal verdere regsaksie verdelend wees.”

Weber beklemtoon MAN wil voortgaan om werk vir sy lede te verseker en het daarom besluit om die volhoubaarheid van ­gesondheidsorg in Namibië nie verder in gevaar te stel nie.

MAN het die mandaat gehad om die regte van dokters te verdedig om medisyne te dispenseer ná 'n verbod en beperking wat in 2008 deur die Medisynebeheerraad (NMRC) onder die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels opgelê is.

Die reg om te dispenseer is vroeër vanjaar suksesvol verdedig ná MAN se hofstryd in beide die hoër- en hooggeregshof. Die verdediging is deur Francois Erasmus Prokureurs en adv. Raymond Heathcote behartig.

“MAN het sy verpligtinge nagekom om ons grondwetlike reg te verdedig om ons beroep sonder beperking uit te oefen. In die lig hiervan wil ons deel bly van die bespreking oor die regulering en registrasie van dokters wat die mense van Namibië dwarsoor die land dien.”

Volgens Weber het die vereniging vanjaar tydens sy algemene jaarvergadering 'n mosie aanvaar om onder meer deur middel van 'n toetssaak vergoeding te eis. Lede sou die aansienlike bedrag insamel wat hiervoor nodig sou wees.

“Laasgenoemde is deur adv. Heathcote voorgestel wat ons tydens die vergadering breedvoerig oor alle be­skikbare opsies ingelig het. Deur middel van stemme is besluit om dié rigting te volg.”

MAN het vervolgens sy regsverteenwoordigers opdrag gegee om aansoek te doen vir 'n koste-eis “om die koste te herwin wat aangegaan is om dokters se grondwetlike reg te verdedig”.

“In dié verband word 'n skikking binne die volgende paar maande verwag.”

Daaropvolgende korrespondensie met MAN-lede het gewys baie dokters voel die skadevergoedingseis is “teenproduktief, duur en selfs kwaadwillig in sy voorneme”, hoewel lede die reg het om dié aksie te volg.

“In onlangse terugvoer het een van ons dokters selfs gevra dat die terugbetaling van sy regskoste geskenk word!”

MAN is 'n vrywillige organisasie wat reeds vir vier dekades gekwalifiseerde mediese praktisyns, hetsy spesialiste of algemene praktisyns, in die land verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2025-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer