Doen so voort, Republikein
Doen so voort, Republikein

Doen so voort, Republikein

Mandy Rittmann
ERNST HASHAGEN SKRYF:

Graag wil ek, as getroue leser, die Republikein met sy 40ste verjaardag geluk wens.

Goed kan ek die beginjare van die koerant onthou.

Ons het in Tsumeb skool gehou en die koerant is verniet by die skool afgelewer. Dit was die tyd waarin die bosoorlog op sy hoogtepunt was. Plase is aangeval en vriende is of gewond of selfs vermoor.

Die nuwe koerant het in 'n tyd sy verskyning gemaak wat nie baie gunstig was nie. Ten spyte daarvan het die “Blou Bollie” vinnig veld gewen.

As stoere nasionaliste het ons dit skelm gelees of in die snipper­mandjie laat beland.

Die onsekerheid oor die toekoms van die land het 'n groot rol gespeel. Die rigting wat die DTA en sy ondersteuners ingeslaan het, was vir ons ondraagbaar.

Tye het intussen drasties verander. As 'n mens Dirk Mudge se boek gelees het, dan weet ons dat hy en sy ondersteuners 'n groot rol in die vreedsame oorgang tot onafhank­likheid gespeel het. Sy bydrae tot die nuwe Grondwet was vir almal baie belangrik.

Vandag lees ek die koerant elke dag.

Dankie aan die mense wat ons op hoogte van sake hou. Dankie vir “Sê maar net”, vir die kommentaar van die redakteur en vele ander interessante artikels wat ons daagliks inlig oor wat in ons land aangaan. Ek het agtergekom dat ek oom Des, Errol Hurter en vele ander vorige beriggewers se bydrae mis.

Ek hoop dat die koerant ook in die toekoms getrou bly aan sy doelwitte en ons verder eerlik oor belangrike sake sal inlig.

Kommentaar

Republikein 2026-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer