Dodetal in Londen-brand kan nog styg
Ná die woonstelbrand in Londen is baie mense steeds vermis, met brandweermanne wat gister in gevaarlike omstandighede die verskroeide gebou deursoek het.
Rook het gisteroggend nog uit die oorblyfsels van die Grenfell Tower in Londen geborrel, 32 uur nadat die brand Woensdag in die vroeë oggendure uitgebreek het.
Die owerhede het 12 sterftes bevestig, maar hulle het aangedui dat die dodetal verder kan styg omdat daar geen hoop is om verdere oorlewendes te vind nie. Londen se brandweerhoof, Dany Cotton, het aan ITV gesê haar span het die boonste verdieping van die gebou bereik en aanvanklike visuele soektogte onderneem, maar dat 'n meer omvattende ondersoek nie gedoen kon word nie omdat toestande te gevaarlik was.
Die Britse eerste minister, Theresa May, het gisteroggend die toneel besoek.
Koningin Elizabeth het in 'n boodskap gesê haar gedagtes en gebede is by die families wat geliefdes verloor het en diegene wat in die hospitaal behandel word. Sy het hulde aan die dapper optrede van brandweerpersoneel gebring wat hul lewe in gevaar gestel het om ander te red.
“Dit is ook bemoedigend om die ongelooflike vrygewigheid van die gemeenskap se vrywilligers te sien wat bystand ná die aaklige voorval verleen,” het die koningin gesê.
The Independent het berig inwoners het jare lank by die gebou se bestuurders gekla en dat hulle die moontlikheid van so 'n tragedie voorsien het.
Die Grenfell Action Group, 'n inwonersvereniging, het Woensdag op sy webtuiste geskryf hulle het die laaste paar jaar verskeie kere oor die swak standaarde vir brandveiligheid daar en by ander geboue gekla, maar dat hul klagtes “op dowe ore geval het”.
“Ons het lankal voorspel dat 'n katastrofe soos hierdie onafwendbaar en slegs 'n kwessie van tyd is,” het die organisasie gesê.
The Telegraph berig intussen 'n desperate ma het haar baba volgens ooggetuies van die “negende of tiende vloer” van die brandende gebou gegooi, waar 'n lid van die publiek die kind gevang het.
“Mense het by vensters gestaan en om hulp geroep,” het Samira Lamrani aan die publikasie gesê.
“Die venster was effens oop en 'n vrou het aangedui sy gaan haar baba vir die skare gooi. 'n Man het nader gehardloop en gelukkig die kind gevang,” het sy gesê.
– Nampa/Reuters/Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie