Djihadiste, polisie dood in aanval
Djihadiste, polisie dood in aanval

Djihadiste, polisie dood in aanval

Tsjetsjnië
Estelle de Bruyn
Drie Islamitiese insurgente en twee polisiemanne is dood in ‘n skietery ná ‘n aanval op die polisie in Rusland se Tsjetsjnië-gebied, het die Tsjetsjniese leier, Ramzan Kadyrov, gister bekend gemaak.

Hy sê die aanval het in die nag in Chali, ‘n dorp ongeveer 30 kilometer suid van die hoofstad, Grozny, plaasgevind.

Rusland was die afgelope twee dekades in twee wreedaardige, separatistiese oorloë in Tsjetsjnië gewikkel. Die streek het wel redelik onder die ystervuisbewind van Kadyrov bedaar.

‘n Klein groep Islamitiese insurgente veg egter steeds teen Tsjetsjniese owerhede en voer sporadiese aanvalle uit.

Menseregte-aktiviste en die opposisie beskuldig Kadyrov daarvan dat hy Tsjetsjnië as sy persoonlike koninkryk regeer, met ontvoerings en martelinge wat wydverspreid voorkom. - Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2026-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer