Dit woel onder Vyf Rand-wesies
Dit woel onder Vyf Rand-wesies

Dit woel onder Vyf Rand-wesies

Organisasie help dié wat deur vigs geraak is
Elvira Hattingh
’n Liefdadigheidsorganisasie wat toegespits is op die sorg van kinders wat hul moeders as gevolg van MIV/vigs verloor het, gee aan wesies “gemeenskapsmoeders”, om onder meer na hulle om te sien, seker te maak hulle gaan skool toe en bly gesond.
Die Orange Babies Foundation Namibia (OBNAM) is ’n klein liefdadigheidsorganisasie wat werk om ’n verskil in arm gemeenskappe te maak. Op Okahandja fokus dit spesifiek daarop om na MIV-positiewe vroue, hul kinders, weeskinders en kwesbare kinders om te sien.
As deel daarvan gaan ’n tipe koshuis by die Primêre Skool Vyf Rand vir die mees weerlose kinders gebou word, waar hulle behoorlik versorg sal word en moontlik ’n beter toekoms gegun kan word.
Hulp word egter nog vir dié projek benodig.
Volgens die organisasie se nasionale bestuurder, me. Cécile Lescurat-Thieme, word twee projekte tans op Okahandja bestuur: Die Orange Babies Kinderontwikkelingsprogram (OBCDP) asook die Ehalo Koo Meme-projek.


OBCDP
Die projek word in samewerking met die Primêre Skool Vyf Rand gedoen en behels die voorsiening van daaglikse etes, “moederlike sorg” asook addisionele sorg vir kinders wat antiretrovirale behandeling (ARV) kry.
“Kinders kan nie op skool konsentreer as hulle honger of ondervoed is nie. Tydens skoolkwartale gee ons elke dag ontbyt en middagete aan 380 kinders. Nog sestig ander kry daagliks ontbyt. Die twee etes per dag motiveer die kinders om skool toe te gaan,” sê Lescurat-Thieme.
“Al die kinders wat deur die kinderontwikkelingsprogram bygestaan word, is kwesbaar met onsekere huislike omstandighede. Die meeste het ook net een lewende ouer.
“Ons ondersteun die kinders by wyse van 13 ‘gemeenskapsmoeders’, onder wie al die kinders verdeel word. Die moeder se rol is om seker te maak haar kinders gaan skool toe, om hulle met huiswerk te help, die kinders se groei te monitor en seker te maak hulle is oor die algemeen gesond.”
Volgens Lescurat-Thieme sien die gemeenskapsmoeders ook na die kinders se algemene versorging om en maak byvoorbeeld seker dat hul hare en naels gereeld gesny word. Hulle neem ook siek kinders na die mobiele Mister Sister-kliniek in die omgewing.
“Addisionele toesig word oor kinders op ARV-behandeling gehou. Tussen ontbyt en middagete ontvang dié kinders ekstra kos wat meer voedingswaarde bevat.
“Op hierdie wyse help ons families om seker te maak kinders hou vol met die behandeling. Tans is daar net twintig kinders wat hieruit voordeel trek, want families wil dikwels nie openlik hul MIV-status bekend maak en hulp vra nie,” sê Lescurat-Thieme.
Volgens haar leef die gekose gemeenskapsmoeders ook in haglike omstandighede en word onder meer onderrig daaroor of toegang daartoe aan hulle beskikbaar gestel.


Ehalo Koo Meme-projek
Deur middel van die organisasie se Ehalo Koo Meme-projek, word steun aan MIV-geïnfekteerde swanger en borsvoedende moeders gebied. Hulle word onderrig gegee, gemonitor en gehelp om seker te maak kinders bly gesond tot hulle op ses of nege maande gespeen word.
Die verpleegsterspan wat vir die projek werk, het altyd 80 vroue wat hulle steun en nóú met plaaslike klinieke en die hospitaal saam werk. Belangstellendes wat bystand of hulp aan die projek wil verleen, kan verpleegster Davids by 081 342 4993 of [email protected] kontak.


Toekomsplanne
Lescurat-Thieme sê Orange Babies beplan om in die nabye toekoms, in samewerking met die ministerie van onderwys, kuns en kultuur ’n koshuis vir kinders by die Primêre Skool Vyf Rand te bou.
“In ons samewerkinge met die skoolberader en skoolhoof, het dit aan die lig gekom dat baie kinders in ’n baie kwesbare situasie verkeer en nie ’n behoorlike huis het waarheen hulle ná skool kan gaan nie.
“Ons het in Nederland die idee bekendgestel om ’n tipe tuiste vir die kinders naby die skool te bou sodat dertig tot veertig van die kwesbaarste kinders gehelp kan word. Die idee het baie goeie steun ontvang en drie organisasies het reeds samewerking beloof,” sê Lescurat-Thieme. “Elkeen van die organisasies sal die bedryfskoste van die koshuis vir drie jaar dra.”


Borgskappe dringend nodig
Lescurat-Thieme hoop die koshuis sal reeds teen die einde van die jaar oop wees.
“Ons het egter nog meer borgskappe nodig. Dit sluit in kos, boumateriaal en meubels. Ons sal ook hulp van ingenieurs en bouers moet kry. Finansiële steun sal ook help om vir hierdie kinders ’n ware huis te bou.”
Lescurat-Thieme sê diegene wat hulp aan die projek wil verleen, kan me. Florida Namufinda (081 283 7626 of [email protected]) of haar ([email protected]) kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer