'Dit was God se wil'

Venters nóg 'n tragedie gespaar

30 August 2019 | Ongelukke
Ronelle Rademeyer



Was dit nie vir die “Here se hand” nie, het die bedroefde familie van wyle Jacques Venter (13) van Windhoek Gimnasium Woensdagmiddag 'n tweede tragedie beleef.

Sy oupa en ouma, ds. Kobus en me. Annatjie Venter, het reg agter die voertuig gery wat Woensdag sowat 40 km voor Arandis voor 'n vragmotor beland en “uitmekaar gebars het”.

Dié oudpredikant van Walvisbaai sê hulle was van Windhoek af, waar hulle sedert Sondag hul seun (mnr. Jaco Venter) en sy gesin ondersteun het, op pad terug kus toe.

“Die Here het al baie vantevore sy hand oor ons gehou, maar die keer was dit regtig die engele wat gekeer het dat die wrakstukke wat deur die lug getrek het, ons tref.

“Ek het gesien die bestuurder van die voertuig voor ons gaan van die teerlaag af op 'n plek waar die verskil in hoogte tussen die teer en pad­skouer seker omtrent 8 cm of meer is. Ek het gesien hy pluk die kar terug, maar toe ry hy ver regs en beland dwars oor die pad. Die volgende oomblik sien ek hoe 'n groot vragmotor die kar tref en dit oopbars.

“My vrou was histeries, want toe sien ons hoe die wrakstukke in die lug opgaan en hoe die mense uitgeslinger word,” vertel Venter.

Die Venters het afgetrek en na die insittendes geloop wat om die wrak gestrooi gelê het. “Ek het in my lewe nog nooit so iets gesien nie. Nie een het meer geleef nie.” (Sien die kassie op bl. 1 vir die name van die ses oorledenes en die een oorlewende.)



JACQUES SÓ ONTHOU

Venter het gister gesê hoewel hulle “treur en ween” oor Jacques, het hy die “heerlike en wonderlike versekering dat God altyd uit pyn die grootste en heerlikste seën” laat voortspruit.

Hy sê hy en sy vrou bid voortdurend vir hul familie.

“Ek omring hulle met 'n muur van gebed. As iets met hulle gebeur, is dit iets wat God toegelaat het. Daarom weet ek wat met Jacques gebeur het, gaan 'n onbeskryflike seën word. God gaan daardeur verheerlik word.”

Jacques se stiefma, me. Liezel Venter, het gister gesê sy is so trots op haar man, Jaco. “Hy is nie kwaad nie en hy is nie bitter nie. Ons het ons vrede by die Here gekry.”

Sy sê Jacques het 'n baie hegte band met sy pa gehad.

'n Maat van Jacques, Christiaan Janse van Vuuren, het hom as “baie positief en vriendelik” beskryf.

Jacques laat benewens sy grootouers, pa en stiefma, ook sy ma, me. Amoré Venter, ouer broer en suster, Travis (25) en Jacinda (18), en sy stiefbroers, Lawrence (19) en Stephan (16), agter.

Jacques word Dinsdag om 10:00 uit die skool­saal begrawe, waar sy oupa die diens sal lei.

Die begrafnisdiens vir Angela Maiba, die ander leerling wat in die busongeluk gesterf het, vind vandag om 12:00 in die eetsaal van Windhoek Gimnasium se koshuis plaas. 'n Gesamentlike gedenkdiens vind Donderdag om 12:00 in die skoolsaal plaas.

- [email protected]

Soortgelyk

 

AgriBusDev-baas geskors

1st of June 18:23 | Regering

Mnr. Petrus Uugwanga, die landbousake-ontwikkelingsagentskap (AgriBusDev) se besturende direkteur, is met onmiddelike effek geskors. Die voorsitter van die AgriBusDev-raad, me. Sophia Kasheeta, het pas ‘n...

Twee 'renosterstropers' verskyn in Gobabis-hof

2 ure gelede | Howe

Twee vermeende renosterstropers het vandag in die landdroshof op Gobabis verskyn.Mnre. Alberto Mbwale en Joseph Matheus het op klagte van die onwettige jag van spesiaal...

Pastoor Babi steeds agter tralies

6 ure gelede | Howe

Pastoor Jackson Babi (30) van die House of Joy Ministries en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni (25), bly steeds agter tralies.Landdros Linus Samunzela het vanoggend...

25ste Covid-19-geval bevestig

8 ure gelede | Gesondheid

'n Vroulike gesondheidswerker (32) is Namibië se jongste Covid-19-geval. Dit bring die aantal bevestigde Covid-19-gevalle in Namibië op 25 te staan. Volgens die minister van...

Hof hoor president is 'mislei' oor arbeidsregulasies

18 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Pres. Hage Geingob is “verkeerd geadviseer” met die opstel van die gewraakte arbeidsregulasies waarvan die grondwetlikheid Vrydag in die hoërhof deur Namibiese...

Namibiërs in haglike omstandighede onder SA-kwarantyn

18 ure gelede | Gesondheid

Twee vroue van Windhoek en die een se 16-jarige dogter meen die vervalle staatshospitaal by Nababeep naby Springbok in die Noord-Kaap waar hulle in kwarantyn...

'Profeet' Babi se borgaansoek vandag

18 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – Die bekende, charismatiese en selferkende profeet van die House of Joy Ministries, pastoor Jackson Babi (30), en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni,...

Twee bemanningslede positief vir Covid-19

18 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht & Leandrea Louw – Walvisbaai huisves tans drie aktiewe gevalle van Covid-19 ná ‘n 51-jarige man Saterdag positief vir die virussiekte getoets het....

Fishrot-manne skarrel vir borgtog

18 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig – Die Windhoek-landdroshof het Vrydag met verskeie Fishrot-sake gewemel, met borgtogaansoeke wat met aansoeke vir die verlenging van tyd vir verdere ondersoek, meegeding...