Dit reën, maar kol-kol
Verskeie weerdienste toon beter vooruitsigte vir reën aan die begin van Januarie. Terselfdertyd bestaan gemengde gevoelens oor die reën wat reeds geval het, met sommige boere wat steeds baie swaar trek.
Elvira Hattingh en Mariselle Stofberg - Goeie reënneerslae het volgens satellietbeelde van die Hidrologiese Dienste van Namibië oor Kersfees en Gesinsdag in die Noorde, Sentraal-Noorde en Noordooste van die land voorgekom.
Boere in die Mieliedriehoek tussen Otavi, Grootfontein en Tsumeb is verheug oor die goeie reënval wat hulle veral tydens Kersfees ontvang het. Mnr. Helmuth Ackermann wat op die plaas Tsumore boer, het op Kersdag 85 mm gehad en in totaal 117 mm reën tussen 23 en 26 Desember aangeteken. “Dit is ’n geskenk van God,” was sy kommentaar.
Nog een van die boere in dié gebied, mnr. Harold van Druten, het gesê hy het in die tydperk tussen 120 en 180 mm reën gehad. “As dit reën, kan dit nie anders as om goed te gaan nie,” het hy gister aan Republikein gesê.
Tog meen party boere dié reën kom slegs kol-kol voor. Boere met plase in die Weste asook naby Omaruru, Usakos, Okahandja en selfs noord van Grootfontein, het gister aan Republikein gesê dat hulle nog min tot geen reën ontvang het nie.
Intussen kom verskeie bees- en wildvrektes daagliks voor.
Johan Oberholster wat op Okarumatero naby Okahandja boer, sê die afgelope weke het verskeie wild op sy plaas gevrek. Hy sê ook hulle het vir die afgelope drie seisoene jaarliks net sowat 100 tot 150 mm reën gehad, wat ver onder hul gemiddeld van 250 tot 300 mm per jaar is.
“Ek het tot dusver op omtrent twintig gemsbokke op my plaas afgekom wat weens die droogte gevrek het. As ek hulle kry en hulle is nog lewendig, skiet ek hulle maar om hulle van hul lyding te verlos. Op my buurplaas Otjisemba het om-en-by dieselfde aantal gemsbokke gevrek,” het Johan gesê.
Christo Wilhelm van die plaas Wackies, ongevaar 80 km noord van Grootfontein, sê hy het 51 mm reën vir die seisoen gehad.
“Die bos het al op sekere plekke gebot, maar die gras vorm net ’n groen skynseltjie. Die wild en vee is skraal en alhoewel my vrou al haar skape moes verkoop, het ek nog nie groot verliese gehad nie,” het hy gesê.
Volgens nog reënsyfers wat deur die Namibiese weerkantoor bygehou word, het dit op Dinsdag 27 Desember 54,8 mm op die Mpacha-lughawe gereën, terwyl 23,6 mm reën op Oshikango ontvang is. Aroab het 22,4 mm reën gehad, gevolg deur Rundu waar dit 12 mm gereën het. Naudubib het 12 mm reën gehad en dit het 11,8 mm op Oshakati gereën.
VOORSPELLING
Die Namibiese weerkantoor voorspel vir vandag en môre gedeeltelik bewolkte en warm weer met geïsoleerde donderbuie vir Rundu, terwyl Windhoek en Ondangwa gedeeltelik bewolkte en warm weer met enkele donderbuie te wagte kan wees. Keetmanshoop in die Suide kan gedeeltelik bewolkte en baie warm weer verwag.
Dit stem ooreen met weerkaarte van die Nasionale Sentrums vir Omgewingsvoorspelling, waarvolgens reënvooruitsigte tot in die vroeë nuwe jaar meer rooskleurig vertoon.
Volgens dié voorspelling vir die volgende twee weke, kan swaar reënneerslae tot 5 Januarie oor die Zambezi-arm, die sentrale ooste, sentrale en veral die suide van die land voorkom. Reën word ook in die res van die land verwag, met uitsondering van die Noordweste. Die vooruitsigte vir reën tussen 5 en 13 Januarie lyk, tot dusver, ewe belowend.
Ander weerdienste se voorspellings vir reën verskil van mekaar, maar dit blyk dat Windhoek se kanse op reën verbeter oor die naweek vanaf Oujaarsdag, terwyl kanse op reën in die nuwe jaar goed vertoon.
Oshakati en Katima Mulilo en Rundu kan ook reën tot in die nuwe jaar verwag, terwyl Otjiwarongo se kanse op reën op veral Sondag en Maandag goed begin lyk.
In die Mieliedriehoek tussen Otavi, Grootfontein en Tsumeb blyk dit ook dat verskeie weerdienste se voorspellings verskil, maar ’n algemene konsensus heers dat dié gebied se kanse op reën die beste oor die komende naweek is. Sommige dienste meen goeie neerslae kan veral op Sondag hier voorkom.
Weerdienste is dit eens dat Mariental en Keetmanshoop vanaf 2 Januarie betreklik méér reën kan verwag en volgens voorspellings bestaan tot ’n 80% kans op reën vir Maandag en Dinsdag. Karasburg se kanse op reën lyk ook goed op dié dag.
Terselfdertyd is die Kavangorivier se vlakke teen 4,73 m bogemiddeld hoog vir hierdie tyd van die jaar, hoewel dit aan die daal is. Die Oranjerivier is teen 0,38 m weer besonder laag vir hierdie tyd van die jaar.
Suid-Afrika het reeds op 26 Augustus beperkings op die gebruik van water uit die Oranjerivier geplaas. Gevolglik geld ’n 10% waterbeperking vir dorpsgebiede en 15% vir besproeiingsdoeleindes.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie