'Dit kan nie so aangaan nie'

Dit eis meestal die lewens van jong vroue onder die ouderdom van 25, en 'n histerektomie is dikwels die enigste uitweg daarná.
Henriette Lamprecht
Verlede jaar is 7 335 aborsies tussen Januarie en Desember by staatsgeriewe in Namibië aan­gemeld.

Dié meer as 7 000 aborsies is slegs die getal waarvan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste bewus is en kan in werklikheid nader aan 10 000 wees.

Hiervan was net 2%, oftewel 138, mediese aborsies. Net by die Katutura-staatshospitaal en Windhoek Sentrale Hospitaal alleen word saam ses tot tien spontane miskrame of aborsies per dag aangemeld.

Dit kan nie so aangaan nie, het die minis­ter van gesondheid en ­maatskaplike dienste, dr. Bernard Haufiku, reeds ­herhaaldelik gepleit.

Debat sonder vooroordele

Hy het gevra vir 'n breër debat sonder vooroordele om ernstig te besin oor 'n kwessie wat weinig objektief en sonder emosie aanroer.

Met aborsie wat onwettig in Namibië is, is die meeste “agterstraat-aborsies” met sepsis en bloeding die grootste komplikasies wat vroue dikwels in die hospitaal laat beland wanneer hulle reeds bitter siek is.

Die enigste uitweg is dan dikwels 'n ­histerektomie wat beteken hulle kan nooit weer natuurlik 'n baba kry nie.

Vroue wat ná aborsies sterf, is meestal jong vroue onder die ouderdom van 25 jaar.

In die buurland Suid-Afrika het jaarlikse sterftes by openbare geriewe weens onveilige aborsies met 91% geval - dít kort nadat aborsie in 1996 in dié land gewettig is.

Maar hoe het die praktyk van geïnduseerde aborsies plaaslik en ook dwarsoor die wêreld die afgelope dekade verander?

Volgens 'n verslag deur die Guttmacher-instituut het beter toegang tot mediese aborsie en voortgesette vooruitgang tot die uitbreiding van en toegang tot regsdienste in lande wat onlangs hul wetlike ­kriteria uitgebrei het, die veiligheid en beskikbaarheid van aborsiedienste verbeter.



Verslag

Abortion Worldwide 2017 - Uneven Progress and Unequal Access sê verhoogde wêreldwye pogings om aborsieverwante sterftes te verminder, asook nuwe riglyne en verbetering in diensverskaffing het ook gehelp om sorg ná aborsies meer toegank­lik en doeltreffend te maak.

Tog sê die verslag vooruitgang is steeds ongelyk in die belofte dat aborsies veilig is en dat sorg vir alle vroue, ongeag waar hulle bly of wat hul inkomste is, aan die voorgeskrewe standaarde voldoen.

Onveilige aborsies, ook in Namibië, kom wydverspreid voor met 'n beraamde 45% van alle vroue wêreldwyd wat tussen 2010 tot 2014 'n swangerskap met 'n onveilige aborsie beëindig het.

Dikwels is dit juis die vroue in die armste lande met die minste hulpbronne wat nie die sorg ontvang wat hulle nodig het, sou daar komplikasies ná die aborsie wees nie.

Die afgelope kwarteeu het die voorkoms van aborsies beduidend afgeneem en veral in ontwikkelde streke. In ontwikkelende lande was daar egter weinig verandering.

Die afname in aborsies in Oos-Europa, waar die voorkoms met byna die helfte verminder het, was die hoogste in enige substreek. Die afname was ook beduidend in die ontwikkelende substreek van ­Sentraal-Asië.

Volgens die verslag word dit verbind met die dramatiese styging in die gebruik van moderne voorbehoedmiddels in dié twee substreke wat uit die voormalige Sowjet-­blok of state bestaan wat na mark­ekonomieë beweeg het.

Soos die gebruik van voorbehoed­middels verbeter het, het die aantal ­ongewenste swangerskappe beduidend afgeneem van 74 ongewenste swangerskappe uit 'n duisend vroue in die tydperk van 1990 tot 1994, tot 62 per duisend vroue in 2010 tot 2014.



Beter toegang

Volgens die verslag verbeter die toegang tot veilige aborsies en gebruik al hoe meer vroue voorbehoeding.

In die algemeen is 'n beraamde 55% van die wêreld se jaarlikse aborsies veilig, 31% minder veilig en 14% onveilig.

Die veiligheid hiervan is nou verbind met die wettigheid van aborsie en die streek of land se nasionale inkomste.

Sedert 2000 het sowat 27 lande die gesondheids- en die sosioëkonomiese voorwaardes vir toelaatbare aborsies uitgebrei.

Daarmee saam het 24 lande een of meer van die drie bykomende voorwaardes bygevoeg waarop aborsie wettig is, wat insluit verkragting, bloedskande en fetale afwykings.

Ondersteuners met 'n regs-, mediese en menseregte-agtergrond ontwikkel ook multidissiplinêre strategieë om die regsgronde vir veilige aborsie te verbreed.

Dié strategieë beklemtoon dikwels die feit dat die kriminalisering van aborsie nie voorkom dat dit wél plaasvind nie, maar in stede daarvan vroue dwing om ­agterstraataborsies te ondergaan.



Geheime aborsies veiliger

Geheime aborsies in lande waar dit verbied word, word veiliger omdat die gebruik van misoprostol alleen om 'n vrug­afdrywing teweeg te bring, ­skadeliker metodes vervang. Die toenemende gebruik van die veilige en hoogs-doeltreffende chirur­giese tegniek van vakuum aspirasie het volgens die verslag ook gehelp om die erns van komplikasies in bo­genoemde lande te verminder.

Die beraamde wêreldwye sterftekoers wat met aborsie verband hou het in die tydperke 1990 tot 1994 en 2010 tot 2014 met 42% afgeneem.

Weer is die verbetering in die veiligheid van prosedures, sowel as die kwaliteit en dekking van mediese sorg ná afloop van 'n aborsie, die grootste faktore wat ­verhinder dat vroue as gevolg van 'n ­onveilige aborsie sterf.

Tog kom onveilige aborsies steeds in baie lande voor en word die beperkings op wettige aborsies meer.

“Miljoene vroue ondergaan jaarliks onveilige aborsies – in lande waar dit hoogs beperk is en ook waar dit buite die bereik van arm en gemarginaliseerde vroue is.”

Waar aborsie streng beperk word, is dit vroue met kontakte wat weet van veilige dienste en dit kan bekostig, wat hiervan gebruik maak.

Die meeste ander vroue is aan onveilige aborsies uitgelewer omdat hulle slegs by onopgeleide verskaffers kan gaan aanklop.

Selfs waar aborsie grootliks wettig is, wend vroue hulle volgens die verslag steeds tot agterstraataborsies sou die ­beskikbaarheid van veilige dienste beperk word deur onvoldoende verskaffers en swaar burokratiese vereistes.

“Vroue word ook dienste op 'n basis van gewetensbeswaar geweier waarvoor hulle wettig kwalifiseer.”

Ten spyte van die onlangse ­uitbreiding van regsgronde in sommige lande, leef twee vyfdes van die wêreld se vroue steeds in lande waar aborsie ten ­strengste verbied word.

Dit sluit 'n algehele verbod of slegs ­beperkte omstandighede in, soos om 'n vrou se lewe te red of om haar fisieke of geestesgesondheid te beskerm.



Stigma kleef steeds

In baie dele van die wêreld klou daar steeds 'n groot stigma aan aborsie, selfs waar dit vir jare veilig en wettig is.

Dit beteken baie vroue bly ­huiwerig om aborsieklinieke openlik te besoek en oorweeg eerder agterstraat­aborsies.

In lande waar dit grootliks verbied word, kry vroue dikwels ook nie voldoende inligting oor die korrekte gebruik van misoprostol nie, terwyl die ­medikasie self van swak gehalte of selfs nagemaak kan wees.

Vroue is dikwels ook onbewus van die feit dat swaar bloeding deel van dié metode se normale proses is.

Hoe langer die vrou neem om vir nasorg en opvolg- mediese behandeling te gaan, hoe groter die komplikasies en die ­verwante risiko van 'n sterfte.

Toegang tot veilige aborsies word volgens die verslag gekniehalter deur nie net wydverspreide stigma nie, maar ook 'n gebrek aan opgeleide en gewillige ver­skaffers, die swak gehalte en finansiering van ­gesondheidsdienste, en ­onvoldoende voorrade van chirurgiese toerusting en aborsiemedikasie.

Tog is daar lande waar dit streng verbied word, waar veilige dienste grootliks ­beskikbaar is teenoor lande waar dit wettig is en deur verkeerde goedkeuring en beradingsvereistes gestrem word.

“Hoewel die meerderheid van lande wat dit verbied aborsie onder ten minste een regsaanduiding toelaat, het baie min die beheerstelsels om te verseker dat vroue wat wettig kwalifiseer, toegang tot 'n veilige aborsie onder sulke omstandighede mag kry.”



Ongewenste swangerskappe

Alles moontlik moet gedoen word om die aantal ongewenste ­swangerskappe te verminder in 'n poging om die aantal aborsies te ­verminder, lui die verslag.

Dit is moontlik deur te verseker vroue en paartjies het toegang tot gehalte voorbehoeding, terwyl daar steeds erkenning gegee word aan die feit dat sommige on­gewenste swangerskappe spruit uit faktore wat nie met die gebruik van voorbehoed­middels verband hou nie.

Dit sluit verkragting en bloed­skande in.

Aborsies is nie outomaties veilig die oomblik wanneer dit gewettig word nie, maan die verslag.

“Ons het nou 'n reeks bewyse van lesse wat geleer is die oomblik wat 'n regs­verandering plaasgevind het.”

Nepal word as voorbeeld uitgesonder met stappe wat bydra tot voldoende implementering: Vestig 'n eenvoudige proses om geriewe te sertifiseer, verseker dat aborsies bekostigbaar is, sluit opleiding in leerplanne vir mediese opleiding in, laat opgeleide middelvlakpersoneel toe om aborsies uit te voer en verminder die aantal ongewenste swangerskappe.

Soos die voorkeur vir klein gesinne en die behoefte toeneem om die tydsberekening van geboortes te beheer, so styg die motivering om moederskap uit te stel, 'n gesonde ruimte tussen geboortes te bereik en ook die grootte van gesinne te beperk tot die aantal kinders wat ouers wil hê.

“Persoonlike keuse is nood­saaklik in 'n vrou se vermoë om die metode van voorbehoeding te gebruik wat by haar ­spesifieke behoeftes pas.”



Vertroulikheid

Voorbehoeding moet sonder oordeel en op 'n ­ondersteunende en vertroulike basis aan alle vroue beskikbaar wees, beklemtoon die verslag.

Dit is veral belangrik vir seksueel aktiewe ­enkellopende vroue in 'n omgewing waar taboes oor seks en kinders buite die huwelik sterk is.

“Dit is noodsaaklik om voorbehoeding aan alle vroue te verskaf wat daarvoor vra. Dit verminder nie net ongewenste swanger­skappe nie, maar dit bevoordeel gemeenskappe deur vroue en ook babas se gesondheid te verbeter wat moeder­skap uitstel, wat op sy beurt weer meer ­opleiding, beter werksgeleenthede en 'n verhoogde finansiële status beteken.”

*Bron: Abortion Worldwide 2017 - Uneven Progress and Unequal Access

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer