“Dit is vir my soos dwelms”

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg - Terwyl ek hierdie artikel skryf, sukkel ek steeds om die werklikheid van die nuus wat ek onlangs ontvang het, te glo. Regtig, mense. Dit is soos wanneer jy nie vir ‘n toets geleer het nie en die uitslae kom, slaag jy met ‘n onderskeiding. Jy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar jy weier om daaraan te karring – nou-nou was dit ‘n fout. Op hierdie oomblik is dit die gevoel wat ek ervaar. Kom ek vertel kortliks: Een van my gunstelingsangers is op pad Windhoek toe.

As gevolg van Kollig se voorblad het laasgenoemde aankondiging eintlik nie meer impak nie, maar maak nou maar of jy nog nie die voorblad gesien het nie. Joss Stone kom. Ja, Joss Stone. Namibië. Windhoek. Ek het nog nie ophou sweet vandat ek die nuus ontvang het nie. Juffrou Stone, met al haar blomme en enkelkettings, gaan op 30 November by die Warehouse-teater optree. Ek sukkel nou al om te slaap. As jy nie weet wie Joss Stone is nie, onder watter klip woon jy? As jy weet, behoort jy ook sweterige polsies te hê. Hierdie is ‘n waarskuwing: Maak gereed vir ‘n aand van fantastiese musiek en voedsel vir jou siel.

Die Engelse roos, wat bekend is vir haar sielvolle stem, gaan haar nuwe album, Water For Your Soul, in Windhoek bekend stel. Hierdie album het vier jaar geneem om te voltooi en van die grootste invloede is Joss se verskeie reise deur Afrika, haar emosionele avonture en haar lojaliteit teenoor reggae-musiek. Joss se pad met reggae strek kilometers terug. Haar opleiding in hierdie genre het sy by groot name in die bedryf gekry. Die Jamaikaanse superster Damien Marley het al duidelik gesê Joss se musikale talent gaan nog lank in die gange van musiek gons.

Die 27 jarige Joss het waarskynlik die helfte van haar lewe in die musiekwêreld deurgebring. Sy het BBC se Star For A Night op die ouderdom van 13 gewen en haar eerste album, The Soul Session, op 16 bekend gestel. The Soul Session het 13 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop en het haar pad na sukses behoorlik geteer.

Water For Your Soul gaan oor die soeke na jou eie geluk en om te doen waarvoor jy lief is.

“Vir my is dit musiek, maar water for your soul kan enigiets wees. Somige mense hou van kos, ander hou van dans en daar is diegene wat van reis hou. Musiek is noodsaaklik vir my siel se groei - op dieselfde manier waarop water ‘n plant sou voed. Dit behels ook ‘n soort dapperheid en die proses om te laat gaan.”

Maak jouself gereed om deur Joss se wonderlike klanke geïnspireer te word. Die blommekind van ’n Engelse soul-sanger was op ‘n ongelooflike reis, letterlik en figuurlik, artistiek en geografies.

Water For Your Soul is die produk van haar reise in klankvorm.

Dit kombineer reggae en soniese hip-hop.

“Dit is regtig ’n kombinasie van al die tipe klanke waarvan ek hou. Ek het nog altyd van blues en soul gehou omdat dit in my stem is. Maar hierdie is nuwe klanke en liedjies vir my. Wat my vreeslik opgewonde maak.

“Party mense maak musiek om hul rekeninge te betaal, ander wil ‘n storie vertel, en daar is ook dié wat dit vir roem doen. Elke rede is geldig, omdat dit jou eie persoonlike rede is. En wanneer dit alles vir jou sin maak, weet ‘n mens waarheen jy op pad is. Die rede hoekom ek musiek maak, is omdat dit my met blydskap vervul. Dit is vir my soos dwelms. Dit is warm, smaak lekker en ruik fantasties. As ek by die straat afloop en ek hoor ‘n busker speel, maak dit my dag baie beter. Ek mag dalk verslaaf wees aan daai gevoel. En dit is hoekom ek doen wat ek doen. Ek wil dáái gevoel met ander deel.”

Joss Stone gaan haar nuwe album op 30 November by die Warehouse-teater bekend stel.

Joss is een van die grootste sterre om op ’n Namibiese verhoog op te tree.

Mike Ott, bestuurder en eienaar van die Warehouse-teater, se grootste droom is dat sterre van dwarsoor die wêreld die Warehouse vir konserte nader.

En Joss Stone het hierdie droom vir Ott en sy span ’n werklikheid gemaak.

Sitplek is beperk en kaartjies verkoop soos soetkoek. Kry joune vandag! Dis dalk presies wat jou siel nodig het. Kaartjies is by http://www.today.com.na/events/joss-stone-concert beskikbaar.

Vir meer inligting, besoek die Warehouse-teater se Facebook-blad.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer