Disse om jou mond te laat water!
Disse om jou mond te laat water!

Disse om jou mond te laat water!

Gerine Hoff
Disse om jou mond te laat water!

Dis eintlik amper al tradisie dat ons Kerstafels kreun onder bakke gekookte kos – al vier ons Kersfees in die middel van die somer. Al ooit ’n koue Kersete oorweeg? Op dié manier hoef niemand agter ’n warm stoof te sweet nie!

Oondgeroosterde beesfilet

2 kg beesfilet

60 ml Cajun-speserymengsel

30 ml olyfolie

45 ml sojasous

Vryf die filet met die speserymengsel in en drup 15 ml van die olie oor. Laat staan vir 15-30 minute. Verhit die res van die olie in ’n pan tot baie warm en braai die filet daarin tot bros en bruin aan die buitekant. Giet die sojasous oor en braai tot gekarameliseer. Laat rus vir ’n paar minute en sny in dun skyfies. Die vleis sal nog pienk wees aan die binnekant. (As jy van jou filet meer gaar hou, bak dit verder in die oond (teen 180 °C) tot gaar na jou smaak). Laat rus vir 10 minute, sny in baie dun skyfies en sit koud voor met klein geroosterde tamaties en ’n romerige kruiesous.

Avokado slaai met spek en neute

1 pak gemengde slaaiblare

6 sprietuie, in ringe gesny met groen lowwe

8 repe swoerdlose streepspek

4 snye witbrood sonder korsies

1 groot, ryp avokado

Kersie tamaties

125 ml pekanneute, grof gekap

125 ml Franse slaaisous

Breek die slaaiblare in kleiner stukkies en plaas in die slaaibak saam met die gesnyde sprietuie. Sny die spek in 1 cm-stukkies en roerbraai tot bros. Haal uit en dreineer op kombuis papier. Sny die brood inblokkies (1 cm x 1 cm) en braai in die dieselfde pan as die spek tot goudbruin. Voeg ekstra olie by indien nodig. Haal uit en dreineer. Sny die avokado en rangskik op die slaaiblare. Bedek met slaaisous. Sprinkel neute, spek en bros broodblokkies oor slaai net voor opdiening.

Volkoring grasuibroodjies

500 g koekmeelblom

500 g volkoringmeel

1 pakkie grasuie, gesnipper

1 pakkie (10 g) kitsgis

10 ml sout

10 ml suiker

625 ml louwarm water

45 ml botter

60 ml olie

100 ml neut-en-saad-kruiemengsel

Meng die mele, grasuie, gis, sout en suiker. Meng die water en botter saam en voeg bietjie vir bietjie by die droë bestanddele terwyl aangemaak word tot ’n hanteerbare deeg. Knie vir 10 minute tot glad en elasties. Sit die deeg in ’n geoliede mengbak, bedek en laat rys op ’n warm plek tot dubbeld in volume. Knie af en verdeel in twaalf ewe groot bolletjies. Smeer ’n muffinpan en voer uit met stukkies bakpapier wat bo die muffinholtes uitstaan. Voorverhit die oond tot 190 °C. Sit ’n bolletjie deeg in elke muffinholte en laat rys weer vir 20-30 minute of tot goed uitgerys. Smeer elke broodjie se bokant met olie en besprinkel met die kruiemengsel. Bak vir ongeveer 20-30 minute of tot goudbruin en gaar.

Feestelike roomyskoek

2 liter toffie roomys, effens sag gemaak

1 groot grondboonbroslekker ("Peanut snack"), gekap

60 ml Amarula-roomlikeur

250 ml vrugtekoekmengsel

45 ml brandewyn

2 liter vanieljeroomys, effens sag gemaak

100 g gemmerkoekies, fyn gedruk

80-100 ml botter, gesmelt

Smeer ’n groot brood- of koekpan en voer goed uit met kleefplastiek. Maak seker dat die rante van die kleefplastiek ’n hele ent oor die kante van die pan hang. In ’n groot mengbak, maak die toffie roomys sag met ’n houtlepel. Roer die grondboonbroslekker en Amarula by en meng goed. Skep in die uitgevoerde pan en sit in die vrieskas vir 20 minute. Verhit intussen die vrugtekoekmengsel en brandewyn saam en kook tot die vrugte sag is. Laat afkoel, meng met die sagte vanieljeroomys en skep op die toffie roomyslaag. Vries tot hard. Meng die botter en koekiekrummels en druk op die vanielje roomyslaag vas. Vou die kleefplastiek toe om die roomyskoek en vries tot wanneer nodig.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer