Disney gereed om Fox vir miljarde te koop
Petrus Malherbe
The Walt Disney Company, een van die wêreld se grootste mediamaatskappye, is op die punt om bates van Rupert Murdoch se 21st Century Fox oor te koop in 'n transaksie van nagenoeg US$60 miljard.
Volgens berigte sal die transaksie die 20th Century Fox-rolprentateljee sowel as die Sky- en Star-satellietuitsaaiers insluit.
Hierdie eens ondenkbare transaksie gaan beteken dat Disney 'n meerderheidsbelang in Murdoch se mediamaatskappy gaan besit, hoewel die ooreenkoms nie Fox se sport- en nuuskanale, Fox Sport en Fox News, insluit nie.
Die onderhandelinge tussen Disney en Murdoch het talle in die binnekring onkant gevang, berig The New York Times.
“Dit is 'n yslike idee wat uit die bloute kom met enorme gevolge,” sê Michael Nathanson, analis in die mediabedryf.
“Dienste soos Netflix, wat direk aan kliënte lewer, gaan nou 'n opdraande stryd voer om 'n markaandeel te bekom.”
Nathanson meen dis ook 'n stap nader aan 'n gekonsolideerde Hollywood waar al meer rolprentateljees saamsmelt, nes CBS en Viacom, die eienaars van Paramount, 'n paar jaar gelede.
Winsgewende titels
Indien die ooreenkoms tussen Disney en Murdoch beklink word, gaan dit beteken dat Disney al 20th Century Fox se flieks en televisiereekse sal besit. Dit sluit uiters winsgewende titels soos Avatar, Deadpool, die X-Men-reeks en gewilde televisiereekse soos 24, Modern Family en The Simpsons in.
National Geographic, die televisiekanaal FX sowel as 22 plaaslike sportkanale én Fox se aandeel in die Amerikaanse stroomdiens Hulu is ook deel van die transaksie.
ESPN
Buiten sy werksaamhede as 'n rolprentateljee, besit Disney reeds die sportkanaal ESPN sowel as talle ander televisiekanale. Kenners meen die onderhandelinge met Fox spruit hoofsaaklik uit Disney se mikpunt om die mark van internetstroomdienste te betree.
Die maatskappy het reeds vroeër aangekondig dat hy aanstaande jaar 'n mededingende platform vir Netflix wil loods.
The New York Times berig dat 'n ooreenkoms tussen Fox en Disney so vroeg as gisteroggend beklink kon word, hoewel dit steeds deur die Amerikaanse mededingingsowerhede goedgekeur moet word.
Comcast, nog 'n Amerikaanse mediamaatskappy wat die groep NBC-kanale besit, het Maandag hul aanbod om 21st Century Fox te koop onttrek. Dit het Disney as die enigste mededinger gelaat.
BBC berig dat die Murdoch-familie in ieder geval 'n ooreenkoms met Disney verkies omdat hulle in Disney-aandele betaal gaan word.
Disney se aandeleprys het Dinsdag met 0,5% in New York gestyg en die waarde van die maatskappy tot US$162 miljard opgestoot.
Terselfdertyd het 21st Century Fox se aandeleprys met 1% gestyg wat die maatskappy se waarde op US$62,6 miljard te staan bring. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie