Dis winter, su00ea wie?
Dis winter, su00ea wie?

Dis winter, sê wie?

Tielman van Lill
Daar is sommige mense wat nie van winter hou nie. Kan jy dit dan glo, wil ek amper vra? Daar is ‘n ewigdurende geteem dat dit nou kwansuis so koud is en dat g’n ordentlike mens dit kan oorleef nie.
Winter is ’n tyd van oorvloed en dit hang net af hoe jy dié outjie benader. Kyk, ’n man maak mos ’n plan en as jy nie ’n plan het nie, dan kyk jy by jou vrinne en maters af wat reeds so ’n plan bekonkel het, want hulle sal nie omgee nie.
Hier by ons kan ’n ou nie te veel oor die koue kla nie. Ja, snags raak dit nogal dikbekkoud, veral as jy jou in die ooptes daar op die vlaktes duskant Hebron bevind. Maar as jy ewe knus en beskermd in jou kaia sit, mog ’n mens mos nie kla nie, of hoe sê ek?
Toe ek myself 25 jaar gelede oortuig het dat die gras heelwat groener aan die suidekant van die Groot Gariep (Oranjerivier) is, het ek terstond daarheen verkas om my brood en botter te gaan verdien. Ek het gou gehoor van die sogenaamde “groenseisoen” en tot my skok besef dat dit die Kaapse donker, koue en nat wintersmaande is. Dan trek alles muf en as jy nie versigtig is nie sit jy later van tyd met blou lieste ook.
Daar sien ’n man sommer maklik nie die son vir twee weke nie en jy reën nat vandat jy jou kop by die deur uitgesteek het tot jy vanaand weer aan huis is. Genagdiglik het my huis ’n fantasie onthaalarea gehad waar 'n borrelbad, “jetmasters”, ingeboude braaie en ’n netjiese oog aan die orde van die dag was. Alte lekker man, sê ek jou.
Kyk, om te braai is in my DNA. Sommer drie of vier keer per week was daar gebraai en natuurlik ’n rooietjie gevat om saam met die vuur se hitte die koue op sy plek te sit. Ons praat nou van droë rooies, soet rooies, roserige rooies en gespeseryde rooies wat ek sommer self met naeltjies, suurlemoenskil, ’n paar swartpeperkorrels, kaneel, ’n blertsie gemmer en suiker tot ’n volkmaakte, volronde drinkdingetjie omgetower het.
Sakke hout is daar nie gekoop nie. Nee wat jong, daai storie het nie werk nie. Daar word drie- of vierduisend stukkies op ’n slag bestel wat liefderyk daar neffens jou ryding in die motorhuis gepak word. Jy sorg dat jou houtarsenaal stewig genoeg is sodat die eerste aflewering goed droog is as die winter met sy moleste aan die einde van Mei begin. ’n Ou wil mos nie met jou broek op jou knieë gevang word nie.
Die ander probleem met oorvloed in die winter is die allerheerlikste resepte en disse wat hul verskyning maak. Een se ouma in die laeveld het so ’n poering en die ander een se tante daar van Sannieshof innie Vrystaat het weer ’n boontjiesop wat selfs die grootste boontjiehater se knieë sal lam maak.
So veel so is die genoegsame oorvloed dat jy as hibernerende winterdier ook later van tyd met ’n oormaat sit. Veral hier om die heupe en buik waar daai nuwe langbroek en “skirkie” wat in April nog so los gesit het, nou ’n knelling veroorsaak wat jou in koue sweet laat uitbars.
Skielik is die vasmaak van jou loopgoed se veters ook ’n moeisame taak en voor jy jou kom kry, staan jy daar by een van die kettingwinkels en bewonder hul aanglipmodelle.
Die volgende stop is die pillekafee wat al wat ’n denkbare preparaat smous om daai rolletjies sommer flussies in die niet te laat verdwyn. Nadat jy die die derde dag aan jou smaaklose skommels geteug het en saggies oor jou oordadigheid by die vleispotte van Egipte geswets het, besef jy dat die skuld van jou toestand maar net voor jou eie deur gelê kan word.
Ja-nee, ou pappie, winter is niemand se speelmaat nie. Dis ’n tyd van oorvloed. Oorvloedigge lêsessies in die kooi; oorvloedige lekker, warm etes en tjoklits en drinkgoedjies wat die braafstes onder die brawes tot oorgawe sal dwing.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer