Dis 'n heksejag teen ons - Trump
Dis 'n heksejag teen ons - Trump

Dis 'n heksejag teen ons - Trump

Die voormalige nasionale veiligheidsadviseur, wie se bande met Rusland een van die fokuspunte van die ondersoek is, het be­skerming vir sy getuienis gevra.
Francoise Steynberg
Pres. Donald Trump van Amerika het uitgevaar teen 'n ondersoek na sy span se verbintenis met Rusland en dit as 'n heksejag deur sy teenstan­ders beskryf.

Trump het ook Michael Flynn, sy voormalige nasionale veiligheidsadviseur, se besluit om vir kwytskelding in die saak te vra, ondersteun.

Flynn, wie se bande met Rusland een van die fokuspunte van die ondersoek is, het beskerming in ruil vir sy getuienis aan die Amerikaanse speurdiens, die FBI, en kongreskomitees gevra.

Flynn se prokureur het in 'n verklaring gesê sy kliënt “het 'n storie om te vertel, wat hy graag wil doen, mits die omstandighede dit toelaat”.

Maar twee sleutelkomitees in die ondersoek, die huis van verteenwoordigers en die senaat se intelligensiekomitee, het albei die voorstel as voortydig bestempel.

Trump het Flynn se stap in 'n twiet aangemoedig.

“Mike Flynn moet om kwytskelding vra, want dit is 'n heksejag ('n verskoning vir 'n groot verkiesingsnederlaag) deur die media en Demokrate van geskiedkundige proporsie!”

Flynn kan 'n sleutelgetuie in die saak wees waarin die FBI en intelligensiekomitees probeer vasstel of Trump se adviseurs by Rusland se inmenging in verlede jaar se presidensiële verkiesing betrokke was.

“Daar is nog baie werk, getuienis en dokumente wat bekom moet word voor enige versoek vir kwytskelding van enige getuie oorweeg kan word.

“Ons moet eers erken watter ernstige stap dit is vir die voormalige nasionale veiligheidsadviseur van die Amerikaanse president om vir vrywaring teen vervolging te vra,” het Adam Schiff, hoof van die Demokrate in die intelligensiekomitee, gesê.

Flynn, wat 'n vertroueling van Trump in sy verkiesingsveldtog was, is in Februarie gedwing om te bedank ná hy die adjunkpresident, Mike Pence, mislei het oor gesprekke wat hy (Flynn) met Rusland se ambassadeur, Sergey Kislyak, ná die verkiesing gehad het.

Verder is hy in die spervuur omdat hy geld van 'n Russiese televisiediens sou ontvang het om 'n geleentheid by te woon waar hy saam met pres. Vladimir Poetin van Rusland gesien is.

Flynn is egter nie die enigste individu in die Trump-kamp wat met Rusland kontak gehad het in die veldtog nie.

“Trump dink Michael Flynn moet gaan getuig en doen wat hy moet doen om die storie openbaar te maak,” het Sean Spicer, woordvoerder van die Withuis, gesê.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer