Dis jou tyd
Tyd is ’n eienaardige ding waaraan ons almal van kleins af moet te doen kry.
Ons moet dit leer erken omdat ons lewens daardeur geraak word en selfs soms bepaal word. Laat of vroeg is van die eerste verskonings wat ouers hul kinders leer. Te laat of te vroeg. Ons leer van etenstyd en slapenstyd en badtyd.
Later moet daar vroeg opgestaan word om betyds by die skool te wees. Teen daai tyd word speeltyd werklik streng beperk en moet dit inpas tussen klastyd en oefentyd, huiswerktyd en huistoegaantyd.
Teen die tyd dat jy universiteit toe gaan, raak tyd meer ingewikkeld. Spertyd en spitstyd, klastyd en partyjietyd smelt almal so saam om soms net een lang streep in die geheue agter te los. Waarheen gaan die tyd?
By die werk is daar nooit genoeg tyd nie. Jou tyd is ook nooit jou eie nie, iemand betaal jou dan daarvoor. Boonop moet mens elke dag tyd afstaan vir die reis heen en weer tussen die werk en die huis. Kom jy tuis en jy haal asem en lê jouself voor die televisiestel neer, dan grom jou maag vir etenstyd en kosmaak word gou ’n prioriteit.
Prioriteite verander heeltemal sodra die kleintjies eers hul aankoms in jou lewe maak. Glo my, babas het geen respek vir tyd nie. Vir hulle is enige tyd skreeutyd, behalwe vir slapenstyd. Dan is hulle so soet mens vergeet dat dit nou halfvier in die môre is en jy moet oor twee ure weer vir die buitewêreld begin regmaak. Kyk jy af na daai engelgesiggies voel dit tyd stop.
Ons is nou almal in ’n spesiale tyd. Ons gaan die nuwe jaar binne, ons los 2020 agter. Die eerste week van 2021 is middeldeur.
Ek voel dit is ’n goeie tyd om aan die tyd te begin dink. Nie so erg die tyd waarin die wêreld, of die mensdom hom bevind nie, hoewel dit beslis interessant is. Nee, liewer ons eie tyd, ons verhouding met ons tyd, ons mag oor ons tyd en ons verantwoordelikheid teenoor die gebruik van ons tyd.
Laas jaar in September het quantamagazine.org ’n baie interesante artikel oor die elastisiteit van tyd gepubliseer waarin die menslike liggaam se verwarrende gebruik van dopamien bespreek word.
Die wetenskaplikes se studies dui aan hierdie biochemiese middel is verantwoordelik vir die gevoel dat tyd stilstaan as mens ’n kookpot moet dophou, maar dat die tyd vlieg as mens met iets lekker besig is. Ek weet min van wetenskap, maar vir my is die belangrike erkenning wat hier gemaak word die invloed van persoonlike ervaring op die verloop van tyd.
Jou tyd hang van jou af; dit is jou eie en anders as die tyd wat andere deurbring; selfs anders as die tyd wat jy met andere deel.
Net so is jou tyd ook jou eie verantwoordelikheid. Neem kennis van jou tyd. Neem besit van jou tyd. Beplan jou tyd. Bestee jou tyd op dinge wat vir jou die moeite werd is. Jou tyd is beperk, maar net hoe beperk? Dit hang van jou af.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie