Dippenaar-saak: Telefoonopnames nie toelaatbaar
Dippenaar-saak: Telefoonopnames nie toelaatbaar

Dippenaar-saak: Telefoonopnames nie toelaatbaar

Volgens die staat het 'n ­ooggetuie nie sy toestemming vir telefoonopnames gegee nie en is dit 'n skending van sy privaatheid.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Landdros Gaynor Poulton het gister in die verhoor van mnr. Jandré Dippenaar beslis dat opnames van telefoongesprekke tussen ’n ooggetuie en mnr. Nico Smit nie as getuienis in die saak toegelaat mag word nie.

Die landdros het beslis dié opnames van telefoongesprekke tussen Smit en mnr. Paul Oosthuizen in verband met die motorbotsing wat die lewe van ses mense bykans drie jaar gelede naby Hentiesbaai geëis het, is onwettig.

Die motivering vir Poulton se beslissing is dat enigiets wat onwettig verkry is, nie in ’n verhoor toelaatbaar is nie. Volgens die staat het Oosthuizen nie sy toestemming vir die opnames gegee nie en is dit ’n skending van sy privaatheid.

Adv. Louis Botes, wat namens Dippenaar optree, wou die opnames gebruik in sy kruisverhoor van me. Hazel Oosthuizen, wat die ongeluk op 29 Desember 2014 buite Hentiesbaai gesien gebeur het.

Oosthuizen, wat saam met haar man, Paul, en me. Antonia Joschko ooggetuies van die ongeluk was, was gister vir die tweede dag in die getuiebank in die streekhof op Swakopmund.

Botes het Oosthuizen oor haar waarnemings net ná die botsing uitgevra. “Ek het vlamme gesien en ’n kar sien rol,” het sy aan die hof vertel. Op Botes se aandrang dat sy die spesifieke posisie van die Ford Ranger waarin die Joschko-gesin gereis het ná die ongeluk moes aandui, het sy gesê dat sy nie die plasing van die voertuig kan onthou nie.

“My passasiers het daardie oggend hul kleinkind verloor. Die ouma het daardie selfde tyd gesê: ‘O Here, net nie dit nie.’ Ek moes hulle ook troos – dit was vir haar verskriklik traumaties om dit ook nog te aanvaar,” het Oosthuizen aan die hof vertel. Oosthuizen en haar man het ’n vriendin se ouers op die dag van die ongeluk op die Walvisbaai-lughawe gaan haal nadat die vriendin se seuntjie dieselfde oggend verongeluk het.

Botes het Oosthuizen oor haar getuienis op Maandag gekruisondervra.

Sy het deurentyd haar getuienis van die vorige dag bevestig. Haar getuienis Maandag was dat sy, haar man en drie passasiers op pad was na Hentiesbaai toe die voertuig wat Dippenaar bestuur het, tot agter hulle gery het, versnel het en hulle op ’n blinde kol voor ’n helling verbygesteek het. Sy het gesê dat sy ’n botsing tussen twee voertuie sien gebeur het die oomblik toe die voertuig waarin sy ’n passasier was, verby die blinde kol gevorder het en sy oor die bult kon sien. Sy het getuig dat die ongeluk aan die verkeerde kant van die pad plaasgevind het.

Joschko is die enigste oorlewende van die ongeluk waarin haar ouers, mnr. Markus Joschko (48) en me. Stephanie Schermuck-Joschko (49), en suster, Alexandra, in ’n botsing met Dippenaar se voertuig gesterf het.

Die drie passasiers wat saam met Dippenaar in ’n Toyota FJ Cruiser was - mee. Dinah Lavinia Pretorius (30), Charlene Charne Schoombe (24) en mnr. Jan Carel (JC) Horn (27) - het ook in die ongeluk gesterf.

Dippenaar staan tereg op ’n klag van roekelose en nalatige bestuur met ’n alternatiewe klag van onbedagsame bestuur, ’n klag van bedrog met ’n alternatiewe klag van verskaffing van valse inligting, ’n klag van bestuur sonder ’n rybewys en ses klagte van moord.

Me. Faith Chiperera-Nyaungwa verteenwoordig die staat.

Die verhoor duur vandag voort.

Kommentaar

Republikein 2025-05-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer