Dippenaar-saak: Landdros ontken partydigheid

Moordverhoor hervat ná meer as 8 maande

03 June 2020 | Howe
Erwin Leuschner op Swakopmund – Ná ‘n uitstel van meer as agt maande het die marathon-verhoor van mnr. Jandré Dippenaar vandeesweek in die streekshof op Swakopmund hervat.

Hy staan tereg op moord nadat ses mense gesterf het in ‘n grubotsing op 29 Desember 2014 op die kuspad na Hentiesbaai wat na bewering deur hom veroorsaak is.

Met die aanvang van die verrigtinge Maandag het Dippenaar se regspan onder leiding van adv. Louis Botes ‘n aansoek ingedien dat landdros Gaynor Poulton haar van die saak verskoon aangesien sy nie onpartydig is nie. Dit is gister van die hand gewys.

Die aansoek spruit uit die gebeure in die hof op 18 September verlede jaar toe die staatsaanklaer, me. Ethel Ndlovu, versoek het die deskundige getuie oor ongeluksrekonstruksies, mnr. Johan Joubert, moet teruggeroep word om te getuig.

Poulton het haar in haar beslissing oor die kwessie weerspreek en gesê: “Dit is inderdaad so dat vir die hof om ‘n regverdige vonnis te lewer, moet die aansoek toegestaan word.” In haar geskrewe uitspraak het sy egter die woorde “regverdige beslissing” gebruik.

Botes het aangevoer niemand gebruik die woorde “regverdige vonnis” op enige gegewe tyd gedurende ‘n verhoor nie. “Daar is ‘n groot verskil tussen die twee woorde. Deur die woord ‘vonnis’ te gebruik, word die indruk by die beskuldigde gewek die hof het reeds oor sy bevinding besluit en dit maak inbreuk op sy reg op ‘n vry en regverdige verhoor,” het Botes betoog.

Hy het bygevoeg sy kliënt “voel toenemend ongemaklik” aangesien sy regspan nie al hul vrae tydens vorige kruisondervragingsessies kon vrae nie.

Ndlovu het gesê daar is geen getuienis om die argument oor die vrae tydens kruisverhoor te staaf nie en dit is bloot ‘n veralgemening. Oor die gebruik van die woord “vonnis” pleks van “beslissing”, het sy gesê daar “is geen redelike bewys van vooroordeel deur net na hierdie twee woorde te kyk nie”.

Sy het verder aangevoer die verdediging het sowat nege maande tyd gehad om die aansoek in te dien, maar het dit nou eers gedoen.

Poulton het in haar uitspraak die aansoek beskryf as “ongegrond, onredelike en nie objektief regverdigbaar nie” en het dit van die hand gewys.

“Sedert die verhoor op 24 Januarie 2017 begin het, het 20 getuies reeds getuig en honderde ure is hieraan bestee. Daar was nooit enige aanduidings dat die hof partydig is nie,” het sy gesê en bygevoeg om die aansoek toe te staan, sal die afhandeling van die saak vertraag. Sy het die gebruik van die twee woorde as ‘n “tongglips” beskryf en gesê dit is eers vandeesweek onder haar aandag gebring.

Volgens haar kan nie vanuit ‘n redelike beskouing hieruit afgelei word dat die hof partydig is nie.

Dippenaar is die eerste mens in Namibië wat ná ‘n motorongeluk van moord aangekla word. Die mense wat op dié noodlottige dag gesterf het, is Jan-Carel Horn, Dinah Pretorius en Charlene Schoombee wat saam met hom in die voertuig was, en drie Duitse burgers op vakansie wat in die ander voertuig onderweg was. Net Dippenaar en Antonia Joschko, wat toe 16 jaar oud was, het oorleef. Dié jong Duitse vrou het beide haar ouers, Markus Walter Helmut Joschko en Stephanie Schermuck-Joschko, en haar suster, Alexandra Marlene Joschko, verloor.
[email protected]

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

3 ure gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

3 ure gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

5 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

6 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

7 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

17 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

17 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

17 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

17 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...