Dink aan jou ma voor jy die vuurhoutjie trek
Dink aan jou ma voor jy die vuurhoutjie trek

Dink aan jou ma voor jy die vuurhoutjie trek

Ronelle Rademeyer
Beste Stakende Student,

Oor enkele weke moet jy sit vir eksamen. Dit beteken elke beskikbare uur in jou dag moet nou aan jou studies gewy word.

Jy is môre se mediese dokter, of rekenmeester of onderwyser of advokaat of wetenskaplike.

Jy is die toekoms.

Maar jy het die probleem geword. Jy het die land se nasionale vrees vir die gebrek aan ’n toekoms geword.

Suid-Afrika se kampusse brand.

En jy trek die vuurhoutjie.

Twee weke gelede het jy die lokaal ingestorm waar my seun besig was om handelsreg te skryf.

Jy het langs hom gaan staan, sy antwoordstel gevat, hom in die oë gekyk en dit smalend opgeskeur.

Handelsreg is my kind se probleemvak. As hy dit druip, is dit goed moontlik dat sy droom om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word, op die lewe se rak van onvervulde drome sal stof vergaar.

My kind, Stakende Student, studeer nie met ’n platinum kredietkaart en ’n oop tjekboek nie.

Hy studeer met bloedgeld; met in-die-sweet-van-jou-aangesig-geld.

Vir hom geld net een stel reëls: Die ABC van studeer. Dít, Stakende Student, staan vir “Apply Bottom to Chair”. Sit op jou bas en leer.

Wanneer ek saans in die bed klim, spook die TV-beelde van brandende biblioteke by my.

“We live for books. A sweet mission in this world dominated by disorder and decay,” het Umberto Eco in The Name of the Rose geskryf.

Jy laat dít wat vir jou die wêreld van kennis ontsluit, opgaan in vlamme.

Jy lê jou eie toekoms in puin.

“Die kind is nie dood nie/die kind lig sy vuiste teen sy moeder/wat Afrika skreeu skreeu die geur van vryheid en heide/in die lokasies van die omsingelde hart/ . . .,” maal Ingrid Jonker deur my kop.

Oudpres. Nelson Mandela het dit voorgelees toe hy in 1994 as Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president ingehuldig is:

“Die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders/die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals/die kind wat ’n man geword het trek deur die ganse Afrika/die kind wat ’n reus geword het reis deur die hele wêreld/sonder ’n pas.”

Loer jy nog in die hart van jou moeder, Stakende Student?

Sien jy haar onrus raak?

Wanneer jou ma donkeroggend die bus werk toe haal, dink sy aan jou.

Sy dink aan haar seun wat ’n man sal word en deur die ganse Afrika trek; aan haar seun, die reus, wat deur die hele wêreld sal reis.

Vrygekoop en sonder ’n pas.

Daarom, Stakende Student, as jy volgende keer die vuurhoutjie wil trek, dink aan jou ma.

Jou ma met die onrus in haar hart.

Omdat haar reus sy reiskaartjie na die toekoms verbrand.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer