Diep gedelf in gebeurlikheidsfonds
Diep gedelf in gebeurlikheidsfonds

Diep gedelf in gebeurlikheidsfonds

Groot, onbeplande uitgawes sluit onder meer studentehulp, begrafnisse, onbetaalde salarisse en militêre oefeninge in.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die regering het reeds meer as N$186 miljoen van die N$250 miljoen uitbetaal waaroor die gebeurlikheidsfonds vir die 2017-'18-boekjaar beskik het.

Dít volgens inligting wat Woensdag tydens mnr. Calle Schlettwein, minister­ van finansies, se nasionale begrotingsrede aan die lig gekom het.

N$187,67 miljoen van die fonds is reeds bestee, maar N$1,28 miljoen vir mnr. Dexter Dias en mnr. Richard Reynolds se regsadvies in die volksmoordsaak, wat namens die prokureur-­generaal se kantoor betaal moet word, is nog nie uit die fonds onttrek nie.

Die fonds is reeds op 8 Junie 2017 gebruik met die afsterwe van die Namibiese vryheidstrydlegende, mnr. Andimba Toivo ya Toivo.

N$3 miljoen is aan sy begrafnis bestee en om die oortrokke rekening van die Heldeakker te betaal.

Daarna het die ministerie van onderwys, kuns en kultuur N$1,134 miljoen nodig gehad om onderwysers se salarisse by die Kollege van die Kunste (Cota) te dek.

Op 2 Augustus is hand in die sak gesteek en moes N$12,5 miljoen aan die ministerie van verdediging oorgedra word vir die weermag se deelname aan die SADC-streek se Blue Kunene- militêre oefening.

Die eerste minister se kantoor het op 22 Augustus N$3 miljoen ontvang vir die jaarlikse Heldedag-vieringe.

Op 13 September 2017 moes die gebeurlikheidsfonds weer handjie bysit toe die Namibiese polisie N$25 miljoen vir brandstof en nutsdienste benodig het.



Salarisse

Op dieselfde dag is N$21 miljoen aan die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) oorgedra om salarisse te betaal.

Op 20 September het die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking N$13,77 miljoen ontvang vir 'n reddingsboei aan Kuba.

Hierna het die geliefde vroulike politikus me. Angelika Muharukua op 1 Oktober gesterf en N$1,5 miljoen is aan die koste van haar begrafnis toegestaan.

Kort hierna het die ministerie van sport, jeug en nasionale diens op 9 Oktober N$500 000 ontvang vir Namibië se deelname aan die XIX-wêreldfees in Rusland.

Op 29 November moes die prokureur-­generaal se kantoor N$752 699 aan Suid-Afrikaanse prokureurs vir hul ondersoek na die regeringspensioenfonds (GIPF) betaal.

Die fonds se laaste uitbetaling voor die einde van die finansiële jaar is op 2 Februarie vanjaar aan die ministerie van justisie gemaak.

Nog N$7,4 miljoen is aan Valinsight betaal vir werk waarvoor die GIPF nie pa wou staan nie.

Met die afsterwe van me. Rosalia Nghidinwa, voormalige minister van binnelandse sake, moes die fonds op 22 Januarie N$2 miljoen aan haar begrafnis bestee.



Strydkinders

Op 23 Januarie is N$18 miljoen aan die ministerie van sport, jeug en nasionale diens ten bate van die “strydkinders” oorbetaal.

Op 24 Januarie is N$21 miljoen uit die fonds onttrek - weer eens om RCC-salarisse te betaal, dié keer vir Januarie, Februarie en Maart 2018.

Op 25 Januarie kry die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) 'n reddingsboei van N$50 miljoen om hul uitstaande skulde tydelik te delg.

Die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping het net meer as N$5,8 miljoen ontvang om Green Enterprises Solution, 'n inligtingstegnologiemaat­skappy, te betaal.

Die prokureur-generaal se kantoor het weer op 31 Januarie by die fonds aangeklop vir goedkeuring van Dias en Reynolds se betaling, hoewel dié geld nog nie onttrek is nie.

Daar bly dus N$62,3 miljoen in die fonds oor voor die 2018-'19-begroting se toekenning, soos aangewys in die boek van inkomste- en uitgaweraming wat terselfdertyd vrygestel is.

Volgens dié boek word N$147 miljoen vanjaar terug in die fonds gestort.

Vir die volgende finansiële jaar, 2019-'20, sal die fonds weer met N$200 miljoen aangevul word, en vir 2020-'21 na raming met N$206 miljoen.

Volgens die boek was die hersiene begroting vir 2017-'18 egter slegs N$77,9 miljoen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer