Diekmann moet veg vir glorie
Diekmann moet veg vir glorie

Diekmann moet veg vir glorie

Roei
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Al die ontwrigting en omstredenheid van die uitgestelde 2020 Olimpiese Spele in Tokio, Japan, sal op die agtergrond verskuif vir die uitgesoekte groepie atlete wat op die eerste naweek van kompetisie gefokus is om die beste vir hul land te lewer.

Die lenige blondekop van Otjiwarongo en die eerste Namibiese Olimpiese kwalifiseerder ooit in roei, Maike Diekmann, sou laasnag om 03:10 (Namibiese tyd) by die Sea Forest Waterway-meer in die vyfde uitdunresies (uit ses) oor 2 000 meter wegspring om haar plek na die kwarteindronde teen 31 ander roeiers oop te veg.

Enkele ure later sal Diekmann en die bokser Junias Jonas die Namibiese vlagdraers tydens die openingseremonie wees.

Vyf Afrikane – Diekmann, Esther Toko (Nigerië), Esraa Ahmed Mohamed (Soedan), Kathleen Noble (Uganda) en Sarah Fraincart (Marokko) – verteenwoordig die vasteland in die enkelskulroei, waarvan die eindronde eers aanstaande Vrydag geskied.

Diekmann sou in uitdun 5 se baan 5 teen die 24-jarige Milena Cancio van Kuba (baan 1), Magdalena Lobnig (31) van Oostenryk (baan 2), Tala Abujbara (29) van Katar (baan 3) en Carling Zeeman (30) van Kanada (baan 4) meeding.

Abujbara, Lobnig, Zeeman en Diekmann is nie vreemdelinge vir mekaar nie. Al vier was by die 2019 wêreldkampioenskap in aksie, waar Diekmann tweede in 8 minute 11.8 sekondes ná Lobnig in 8:07.3 in hul eerste resies geëindig het.

In die kwarteindronde was Diekmann nie op haar beste nie. Sy loop die derde plek met twee sekondes mis en eindig vierde in 7:43.90. In die C-semifinaal toon sy puik verbetering (7:35.1, tweede), maar in die C-finaal eindig sy naelskraap vierde in 7:52.44.

Zeeman eindig sesde in die A-finaal (7:29.70), Lobnig derde in die B-finaal (7:38.31), terwyl Abujbara tweede in die E-finaal (7:45.73) klaarmaak.

Grant Dodds, afrigter van Diekmann, het aan Republikein verduidelik hoe die skulroeikompetisie in Tokio werk.

“Daar is 32 roeiers wat vir die Spele gekwalifiseer het. Uit elkeen van dag 1 se ses uitdunne vorder die eerste drie plekke direk na die kwarteindronde wat Maandag plaasvind.

“Die res van die roeiers (4de tot 6de plekke) sal Saterdag in drie repechage-uitdunne opnuut kans kry om in die toptwee te eindig vir Maandag se kwarteindronde.

“Die kwarteindronde is moont­lik die belangrikste en hardste van die ganse kompetisie. Indien Maike 'n topdrie posisie behaal, sal sy Woensdag in die A/B-semifinaal kompeteer. As sy nie onder die top-12 eindig nie, sal sy Dinsdag in die C/D-semifinaal roei. In die semifinaal moet sy dan opnuut onder die voorste drie eindig om vir die eindstryd in A/B of C/D reg te maak.

“Hopelik het sy (vandag) 'n goeie resies, dan hoef sy nie Saterdag 'n ekstra resies te roei nie. As sy die voorste twaalf haal, is die stryd half gewonne.”



'ONGELOOFLIK'

Diekmann het gesê: “Dit is altyd 'n ongelooflike voorreg om Namibië internasionaal te verteenwoordig. Veral by die byeenkomste met soveel lande verteenwoordig met groot spanne, en dis is net ek van Namibië, stoksielalleen. Natuurlik is dit intimiderend, maar ek put ook inspirasie daaruit. Die ondersteuning tuis is wonderlik.

“Ek het in 2015 begin roei en nie gedink ek sal die sport so vinnig baasraak nie. Gelukkig is ek 'n baie kompeterende persoon en het vinnig vordering gemaak.

“Dit is wonderlik om Namibië by die Spele te verteenwoordig in 'n sport wat nie werklik groot in Namibië is nie. Ek het voor die Spele aan 'n oefenkamp in Japan deelgeneem om te akklimatiseer, want dit is baie warm en bedompig in Tokio.

“Covid het wel sake vir ons as atlete bemoeilik, maar daar was altyd genoeg planne gemaak om te kan oefen. Covid het ons nie net as mense sterker gemaak nie, maar ook as atlete.”

Volg Republikein se Facebook-blad vir uitslae en nuusgebeure omtrent die Spele.

[email protected]

FOTO
Grant Dodds (afrigter) en Maike Diekmann. Foto Facebook (Maike Diekmann)

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer