Die watervalle van Krka
Pedro Vorster
Ons is onvoorberei vir die rofstoei in die besoekersrye.
Hier is persoonlike ruimte ‘n feëverhaal. Dit kon erger gewees het. Die sussende waters van die indrukwekkende Krka (uitgespreek kirka) waterval kalmeer die skare effens, maar die kalmte hou net tot die volgende veerboot opdaag.
Die hawedorp Split in Kroasië is ons basis en van hier kry ons koers na die Krka Nasionale Natuurpark. Die Krka is een van sewe panoramiese watervalle in die 73 km lange Krka-rivier. Die landmerk moet liefs oor vakansiedae en langnaweke vermy word, tensy jy nie omgee om kloustrofobies te baklei vir ‘n sitplekkie op ‘n klein veerboot nie. Dié haal jy van die pier in die dorp Skradin na die valle, net moontlik van April tot November.
Daar is ander, rustiger opsies om by die valle uit te kom. ‘n Kort stappie van 875 m van die Lozovac-parkhek en ‘n langer een van 4 km. Dié loop teen ‘n heuwelrand en begin in die hawedorpie Skradin. Die vryskut-toeristeagente hier is gouer op jou as tandpyn en hulle sweer saam om die goedkoper alternatiewe roetes hoogs geheim te hou.
Die park is wyd en so afgesaag soos wat dit waar is; ons tyd is te min om alles te sien. Een sintuig wat wel bevredig word, kry jy tydens ‘n geurige wandeling op die rivieroewer. Hier groei die laventel die tweede digste per vierkante meter in Europa.
Die mooiste waterval in die Krka is ‘n vet piekniekmandjie werd. Die “Manojlovac Slap” is die derde waterval in die rivier. Sy water, voorsien uit die Brijan-meer, stort ‘n aanskoulike 32,2 m oor die kliprand. Omring deur mos, sub-Mediterreense plante en grasse lyk die klipterrasse byna kunsmatig en parkversorg netjies, maar is natuurlik nie. Die afgesonderheid van die plek maak die valle ‘n klein juweel. Min mense kom hier en jy moet ‘n entjie stap en omdraai om die linte water oor die afgrond te sien afrol.
Die Romeine los plattelandse besettingspore hier in die Dalmatinska Zagora-gebied. Naby die pragtige waterval het hulle in 33 v.C. so lekker kamp opgeslaan die Burnum-basis groei en word ‘n dorpie vir sowat 76 jaar. Toe loop dit onverklaarbaar leeg. ‘n Paar ruwe klipboogsuile van belangrike kampgeboue staan nog in die veld vir dié wat belang stel.
Vir die destydse legioene is daar ‘n kort entjie van die kamp ‘n klein amfiteater gebou. Vinnig om sy troepe gelukkig te hou, is dit deur Keiser Claudius befonds en voltooi in 77.
Die amfiteatertjie verval ook, maar is in ‘n spasmodiese oorlewingsproses. Foto’s uit verskeie bronne wys hoe sy kapitaal-arm-restourasiepogings met rukke en stote aan die gang kom en vasval.
‘n Raaiskoot: Herstelwerk was 60% voltooi tydens ons besoek, maar dit is weer eens gestaak. Die amfiteater is op ‘n natuurlike sinkgat gebou, ‘n slim manier om natuurlike dreinering te bewerkstellig en uitgrawingswerk te verminder.
Binne die 100 m eliptiese arena dra eggo’s spookagtig helder. Die verlede speel egter nie saam nie en nie eens ‘n sweempie van vorige glorie wil weergalm nie.
‘n Reuse-grondverskuiwingslaaigraaf staan en roes eenkant, asof dit ‘n apokaliptiese robot is wat wag vir die verganklike mens om in die arena te kom te kere gaan. Hier was miskien bloed vergiet, maar die wonde het letsels geword en is saam met die krete toegevou in tyd.
Buite die teater staan ‘n gesiglose, lewensgrootte plakkaat van ‘n spieswerpende Romeinse soldaat. Jy sit jou bakkies in die uitgesnyde opening en siedaar, jy lyk soos ‘n vreeslose vegter.
‘n Vreemde episode speel af by een uitkykpunt in die park. Op die rand van die duiselwekkende Brljan-afgrond spring ‘n jong man op die smal houtreëling en balanseer met arms en bene wyd. Hy draai om en keer sy rug op die dodelike diepte. Sy metgesel kan dit nie verduur nie en drafstap terug na hul motor. Hy lag uitgelate, uitdagend.
“So vreesloos het ons Kroate gebalanseer op die rand van anargie en oorleef,” sê sy gebaar.
Hy gelukkig ook.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie