Die ‘waterpad’ na Windhoek gee probleme
Dirk Heinrich - Die oostelike waterdraer tussen Grootfontein en die Omatakodam wat in 1987 voltooi is, is duur om te onderhou en lewer verskeie probleme. Behalwe dat water op verskeie plekke lek, val baie diere dikwels in die kanaal en versuip.
Boonop grawe varke op verskeie plekke gate onder die kanaal deur wat dit laat sak, breek en water laat lek. Terselfdertyd het bome en bosse se wortels al plek-plek krake in die sement veroorsaak, waar meer water verloor word.
Kort ná die voltooiing van die kanaal het mense daarna as die “killer” kanaal begin verwys, weens baie diere wat dikwels daarin val en versuip.
Skilpaaie, vlakvarke, erdvarke, bobbejane, koedoes, muise, steenbokkies, ietermagô’s en selfs beeste word meestal dood uit die kanaal gehaal. Daar is baie min plekke in die kanaal waar diere wat daarin geval het, kan ontsnap.
Hoeveel diere inval, weet niemand nie.
Naby Waterberg is die kanaal vir etlike honderd meter bedek en by ander plekke is ’n sementblad bo-oor die kanaal geplaas.
Veediewe het onlangs die karkas van ’n bees onder dié blad ingegooi, nadat hulle die beste stukke vleis uitgesny het. Die karkas is eers deur NamWater se personeel ontdek nadat dit begin ontbind het en onder die blad uitgespoel het. Dit het by ’n sluis vasgehaak.
By verskeie plekke pomp boere water uit die kanaal. Die water word gemeet en die boere betaal daarvoor. NamWater neem lesings sodra hulle by hierdie watermeters tydens hul patrollies langs die kanaal verbygaan.
NamWater-werkers ry glo elke twee weke van die Omatakodam tot by Grootfontein om lewendige en dooie diere uit die kanaal te haal. Dan word bosse en gras ook verwyder wat die vloei van die water by sluise en pyplyne versper.
Die kanaal bevat baie sediment en ’n tipe watergras.
Volgens NamWater-werkers moet die sediment in die kanaal dringend verwyder word, maar dit neem ’n week om net dooie diere en bosse uit die kanaal te verwyder.
As personeel van NamWater erdvarkgate toemaak, grawe hulle net langsaan weer ’n gat. Behalwe daarvoor is dit tydrowend om langs die kanaal te ry, weens etlike hekke van plase wat oop- en toegesluit moet word.
Die kanaal is aan albei kante deur ’n veewerende heining toegekamp. Plaasboere mag hulle diere nie in hierdie gebied laat wei nie.
Die water in die kanaal kom van die Berg Aukas- en Kombatmyn, asook boorgate in die Karstveld. Dit vloei vir die eerste 250 km vanweë natuurlike gravitasie sonder die hulp van pompe, tot by die Omatakodam.
Die water word in pype onder deur riviere, valleie en paaie gelei, voordat dit verder in die kanaal vloei. Sluise wat op reëlmatige afstande in die kanaal voorkom, dam die water plek-plek op en keer ook dooie diere, plante en sediment vas. Dit laat die water toe om nuwe momentum te kry.
NamWater het vroeër vanjaar tydens ’n media-opedag gesê dat dit reeds sedert April 2015 van die oostelike waterdraer gebruik maak om water vanaf die Noorde te vervoer. ‘n Pyplyn van 120 km lank vervoer water tussen die Omatako- en die Von Bachdam.
Republikein het in Junie vanjaar berig dat mnr. Willem Venter, NamWater se hoof van beplanning en waterbronbestuur, tydens ’n vergadering met die Namibiese Handelsforum (NTF) gesê het die Berg Aukas- en Kombatmyn lewer onderskeidelik tans 5,5Mm³ (altesaam 11Mm³) aan Sentraal-Namibië.
Hy het ook gesê dat beduidende waterverliese langs die pad voorkom, as gevolg van probleme met die infrastruktuur en verdamping.
“Sowat 8Mm³ hiervan word eindelik in Sentraal Namibië – hoofsaaklik op Okakarara en Okahandja – gebruik waarvan na raming slegs sowat 3Mm³ Windhoek per jaar bereik.”
NamWater sê ander probleme wat hulle ervaar met die vervoer van water van die Noorde, is die feit dat kragonderbrekings gereeld voorkom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie