Die waterkrisis: Wenwenke vir groot besparings

“‘n kopskuif en ‘n emmer”
Dani Booysen
Anita Witt, koördineerder van die Recycle Namibia Forum­ (RNF) skryf:
Ons is trots om die wenners in die kompetisie “I Save Water, This is How…” aan te kondig. Die insiatief was aangebied deur RNF, Ohlthaver & List en Fendler Consulting/Rent-a-Win.
Mnr. Gys Burger wen die eerste prys van ‘n N$1 000 inkopiebewys van Pick n Pay. Die tweede prys, ‘n N$500 inkopiebewys, is gewen deur Karin Loftie-Eaton, ‘n 12-jarige leerling van Windhoek Gimnasium.
Met waterbesparing is hierdie drie “R’e” noodsaaklik: “reduce, reuse, recycle”. Verminder, hergebruik, herwin.
Dit was regtig bemoedigend om te sien hoe Windhoekers water probeer spaar.

GYS BURGER SE WENINSKRYWING:
Al wat jy benodig:
• ‘n Emmer
• ‘n Groot skottel
• ‘n Klein houer
• ’n Slimfoon of pen en papier
Buiten die slimfoon, behoort die items jou nie meer as N$150 te kos nie. Dit lê dalk reeds in jou huis rond. Die oplossing is dus goedkoop. Besparing vereis nie duur toerusting nie, maar ‘n veranderde ingesteldheid.

VOLG HIERDIE STAPPE
1) Waar kom my water vandaan?
Stap deur die huis (werkplek) en stel vas waar die munisipale kraan of toevoerstelsel is.
2) Waarheen gaan my water?
Elke huis (werkplek) is uniek. Skryf al die waterpunte in en buite die huis neer.
3) Waarvoor word water by elke punt gebruik?
Dit klink eenvoudig, maar is baie belangrik. Daarna volg die heel belangrikste vraag:
4) Kan ek minder water by hierdie punt gebruik?
Identifiseer by elke punt hoe jy minder water kan gebruik of aktiwiteite anders kan doen om te spaar.
Die ekonoom sal die water wat na die huis vloei die aanbod (“supply”) noem, en die water wat benodig word die vraag of aanvraag (“demand”). Die kern van besparing behels om jou aanvraag te beperk sodat ‘n groter aanbod of meer voorsiening onnodig is.

MOONTLIKE OPLOSSINGS
Vir my huis het ek die tabel hiernaas opgestel. Almal kan dit doen.
Jy kan nie weet of jy bespaar as jy dit nie meet nie.
Om vir jou munisipale rekening te wag om te sien hoeveel water jy gebruik, is nie genoeg nie.
Op jou slimfoon kan jy ‘n toepassing soos “Consumptions” gebruik. Daar is soortgelyke toepassings (toeps/”apps”). Ek meet ook my elektrisiteitsverbruik hiermee.
Die toep stoor al jou inligting op een plek en jy kan daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse verbruik in syfers en grafieke sien.
Indien jy nie ‘n slimfoon het nie, werk papier en pen/potlood net so goed.

MEET – EN WEET
Hoe gereeld moet jy die watermeter lees? Ek beveel aan elke dag. Dit neem net ‘n minuut.
Weeklikse lesings is ook goed, maar ‘n mens verloor fyner besonderhede.
Met behulp van daaglikse lesings kon ek spesifieke, vermorsende tendense identifiseer. Jy kan ook lekkasies baie vinniger identifiseer.

WENKE
‘n Vol wasbak is selde nodig om skottelgoed te was. Dit mors baie water.
Miskien is dit tyd om minder vol fiemies oor die toilet te raak? Moet nie spoel as jy net geürineer het nie. Slaan die deksel toe.
Die stort is in Namibië nie ‘n plek om sakeplanne uit te dink, om te sing, ‘n argument te oefen of die lekker hitte en stoom te geniet nie. As jy dit doen, hou op stort. Ek was myself uit ‘n emmer wat ek in die stort volmaak.
Dit is moeilik in die winter, maar motiveer jou om vinniger te was.
‘n Mens spaar dubbeld as jy stort­water in die toilet gebruik.

MY UITSLAE
Ek het eers in September begin meet en gebruik die “app” sedert die begin van die jaar.
Ek woon alleen in my woonstel.
Sedert ek behoorlike lesings begin neem het, was my hoogste verbruik 2,126 m3 in November 2015 en die laagste verbruik 1,037 m3 in Mei 2016 – byna ‘n 52% verskil. Vir vanjaar wissel my gebruik tussen 1,037 en 1,675 m3, wat beteken ek gebruik tussen 33 en 56 liter water per dag.
Die munisipale riglyn van 90 liter/persoon/dag werk makliker as die 40% besparingsteiken. Vanjaar gebruik ek tussen 37% en 62% van die toelaatbare hoeveelheid water per persoon.
Teen ‘n gemiddeld van 50 liter per dag is my verbruik aansienlik laer as die maatstaf. Al wat dit my gekos het, was ‘n kopskuif en ‘n emmer.

ALTYD RUIMTE VIR VERBETERING
Ek kan selfs meer water bespaar, byvoorbeeld met die huishulp se ondersteuning en by die wasmasjien. Ek reken ek kan die wasmasjien se water ook gebruik om die toilet te spoel. Dit is sowat 40 liter per was. Ek verwag nie van elkeen om die redelike “gek” dinge te doen wat ek doen nie. Wanneer daar meer mense in ‘n huis woon, is dit moeiliker om te spaar omdat jy nie almal kan beheer nie.
Besparing is veel goedkoper en makliker as wat jy dalk dink. Dit bevorder volhoubare en verantwoordelike houdings teenoor ons kosbare waterbronne.
Die voordele lyk miskien vir een persoon klein, maar as ons dit wyd toepas, sal die gesamentlike besparings ‘n reuse-uitwerking op die druk op ons waterbronne hê.
Ek reken die meeste mense kan met 70 liter per dag oor die weg kom sonder aansienlike of pynlike veranderinge. Baie veranderinge was vir my maklik en het positiewe gewoontes gekweek wat ek daagliks toepas.
Sluit asseblief aan by die Facebook-groep Save Water Namibia.

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer