Die vrede van alles verloor
Die vrede van alles verloor

Die vrede van alles verloor

[email protected]
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt – Wanneer jy hierdie lees, is dit al drie jaar sedert ek my ma aan die dood afgestaan het. Ek was 17 op dié koel Saterdagoggend toe hulle my ma met die ambulans weggevat het. Ek en my broer het stilletjies in die tuin, meters van mekaar gestaan en ek het geweet ons al twee was daar. Ons het geweet hierdie was ons laaste kans om dieselfde asem as ons ma in te asem.

Ek kan nie meer onthou hoe die geraas in my kop geklink het nie, maar ek onthou die verskriklike geraas. Daardie minute in die tuin was die eerste keer wat ek die vrede van die dood in my hart sou ervaar.

Die rouproses word gereeld in vier emosies verdeel: ontkenning, woede, depressie en aanvaarding. Hoewel jy hierdie vier emosies tydens die rouproses sal ervaar, is daar twee oorheersende emosies: hartseer en vrede.

Hierdie twee vorm ’n eienaardige mengelmoes in jou binneste wat ek nie dink ek ooit sal kan verstaan nie. Soos tandepaste en sand – ’n eienaardige kombinasie wat meer ongemak as enigiets anders veroorsaak.

Daar is oorweldigende vrede dat my liefste mamma nie die ware naarheid van hierdie wêreld meer hoef te verdra het nie. Ek het vrede omdat ek nie meer oor my ma se seer en hartseer bekommerd hoef te wees nie.

Sy hoef nie meer haar pille te drink, want daar is nie meer pyn nie. Sy hoef nie meer te wonder of die kanker haar sal wegvat nie, want ons weet nou dit het. Haar toekoms is nie meer onseker nie.

Toe my pa drieuur daardie oggend in die hospitaal se parkeerarea vir ons sê sy is weg, het die gedreun in my ore meteens stilgeword. Die wêreld was stil om my en ek kon my hartklop hoor. Dieselfde hartklop wat my ma amper 18 jaar te vore vir my gegee het. My bors het toegetrek en die hartklop wat ek kon hoor, het met elke doef-doef my ribbes nader aan mekaar getrek. Ek was amptelik alleen in hierdie wêreld. Die hartseer het ingesink. My hart was fisiek seer. Ek het my beste vriend per WhatsApp laat weet. My vinger het gehuiwer op die pyltjie wat my boodskap die wêreld sou instuur. Ek het geweet hy slaap, hy was nog altyd een vir roetine, maar ek het gehoop hy sou my antwoord – ek moes net weet dat ek nie heeltemal alleen was nie. Helaas, sou sy antwoord eers ure later kom.

Drie jaar later het ek steeds vrede in my hart. Ek het alles verloor, waarvoor sou ek nog my sente tel en my lyntjies trek? Daar is niks meer vir my nie en op ’n vreemde Mark Manson-manier het hierdie my goed gedoen.

Die skrywer Mark Manson skryf in sy boek The Subtle Art of Not Giving a F*ck dat mense wat nie omgee nie, beter presteer omdat hulle eerstens, in die afwesigheid van die vrees vir mislukking die moed het om ’n taak aan te pak en uit te voer en tweedens, omdat hulle nie te trots is om uit hul foute te leer nie.

Ek sou my Mark Manson-vrede in ’n oogwink vir my ma verruil, maar in die afwesigheid van ’n keuse het ek darem nog my vrede.

Kommentaar

Republikein 2025-08-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer