Die vrae wat Steinhoff moet beantwoord

Sedert sy erkenning oor “rekeningkundige onreëlmatighede” in Desember het die groep min gedoen om beleggers gerus te stel, maar als is miskien nie verlore nie – sommige bates bly waarskynlik onaangetas.
As Steinhoff Internasionaal wil verhinder dat sy lidmaatskap van die Frankfurtse aandelebeurs en die JSE opgeskort word, het hy min tyd oor om resultate vir die jaar tot einde September bekend te stel.

In die meer as 'n maand sedert die groep se bekentenis dat “rekeningkundige onreëlmatighede” bestaan en daar van Markus Jooste, uitvoerende hoof en hoofverdagte ontslae geraak is terwyl die aandeelprys in duie gestort en beleggers byna al hul geld verloor het, het die bestuur en direksie nie juis feite verskaf nie.

Steinhoff het tot 31 Januarie om beleggers, die owerhede en uitleners meer insig te gee in sy finansiële posisie en hoe hy beplan om sake reg te stel.



Kan hy oorleef?

Nie in sy huidige gedaante of onder sy huidige naam nie, sê Wayne McCurrie, portefeuljebestuurder by Ashburton Investments. “Dit beteken nie daar is geen waarde vir aandeelhouers nie, dit beteken ook nie die ­maatskappy is niks werd nie,” sê hy. “Hulle benodig likiditeit en sal vir aandeel­houers 'n mate van waarde probeer verkry deur die goeie bates van die slegte bates te skei – soos African Bank.”

Die probleem is dat dit wat voorheen gepubliseer is nie vertrou kan word nie, dus is dit moeilik om te weet wat goeie en wat slegte bates is.

McCurrie sê maat­skappye wat nie deur die boekhoudingskandaal geraak word nie, kan verkoop of afsonderlik genoteer word. Steinhoff Africa Retail (Star), 80% in Steinhoff se besit en in September afsonderlik genoteer, besit ver­skeie kleinhandelsname soos Pep, Ackermans, JD Group, HiFi Corp en Incredible Connection, wat heelwaarskynlik te koop sal wees of verdeel word, of Pepkor sal aan iemand anders verkoop word, sê McCurrie.

“Sover ons weet is dit 'n goeie bate en nie by bedrieglike boekhouding en probleme betrokke nie. Ons is taamlik vol vertroue dat Star skoon is.

“Ons weet ook taamlik seker die Pepkor-bate is 'n goeie bate. Poundland (Brittanje) en Mattress Firm (Amerika) is onaangetas, want Steinhoff het hulle pas eers gekoop – hulle is miskien net die helfte werd wat vir hulle betaal is, maar hulle was nog nie in 2016 en 2015 (in Steinhoff se stal nie), so daar kan waarde in hulle wees.”

McCurrie sê die skade lê waarskynlik in maatskappye soos die Franse meubelhandelaar ­Conforama, in 2011 gekoop, en die meubel- en huiswareketting Poco, met winkels in Suid-Afrika, Australië en Duitsland.

Sodra goed en sleg geskei is, sal die “slegte” maatskappye aan allerlei regsimplikasies onderhewig maar bankrot wees, met min toevlug vir dié wat geraak word.

“Elke enkele belegger kan hulle hof toe vat weens aandeelprysverlies, met aandele wat op grond van finansiële state gekoop is. Dit kan vir ewig aangaan,” sê McCurrie.

Byron Lotter, portefeuljebestuurder by Vestact, sê: “Dit is belangrik om te onthou, en die mark is onlangs daaraan herinner, dat Poundland dit reggekry het om as 'n afsonderlike filiaal in eie reg kapitaal in te samel en 'n rekord-feestyd ervaar het. Steinhoff is beslis nie 'n onderneming sonder waarde nie.”

Die huidige aandeelprys wys dat beleggers die ergste verwag. “My gevoel is dat die onderneming sal oorleef. Die aandeelprys behoort 'n herwaardering te ondergaan wat die waarde van die onderliggende ondernemings weerspieël, maar nog skokke kan kom,” sê Lotter.

Ofskoon Steinhoff bedryfsondernemings kan verkoop, wys Lotter daarop dat die maat­skappy sukkelende ondernemings gekoop het wat moontlik moeilik sal verkoop.



Wat sal hy ­heraangee?

Ontleders sê dit is in dié stadium sinneloos om te bespiegel. Laas het Steinhoff gerapporteer, vir die nege maande tot einde Junie, dat inkomste met 48% toegeneem het, grootliks danksy die verkrygings van Mattress Firm, Poundland en Fantastic Furniture, terwyl organiese inkomste met 8% gegroei het. Vir die ses maande tot Maart 2017 was sy skuld op €9,5 miljard en kontant €3 miljard.

Dit is nou als fiktief en ontleders is huiwerig om 'n raaiskoot te waag.

Als word waarskynlik heraangegee, sê McCurrie. “Wanneer jy dié soort korrupsie en bedrog teëkom, is daar gewoonlik twee moontlikhede – hulle het die wins ooraangegee of bates te hoog aangegee. Heelwaarskynlik albei.”

Belastingontduiking of -ontwyking is sekerlik ook 'n kwessie, maar die belastingimplikasies as resultate heraangegee word, is onduidelik.

Bradley Preston, hoof van genoteerde beleggings by Mergence Investment Managers, sê: “Ongelukkig is daar verskeie moontlike uitkomste; dit is moeilik om vir seker te weet. Hulle is óf onseker óf huiwerig om inligting bekend te maak en daar is onsekerheid oor die netto kontant- en skuldposisie.

“Ons kan party onderliggende maatskappye waardeer, maar totdat ons nie weet wat die likiditeitsposisie is nie, is dit moeilik om te sê wat die groep in sy geheel se bruto skuldposisie is.”



Is misdaad gepleeg?

Ja, sê McCurrie. “Miskien het dit nie as 'n ekonomiese misdaad begin nie,” sê hy. Dikwels bekyk iemand hul finansiële state, wat wys die maatskappy het nie soveel wins gemaak as beloof nie, dan kook hulle daardie jaar die syfers in die hoop om met die volgende jaar se handel daarvoor te vergoed. “Dit begin nooit met misdadige voornemens nie; dit begin wanneer jy die waarheid begin wegsteek totdat jy jou later in 'n misdadige posisie bevind.”

Dit is dalk nie die geval dat geld fisiek gesteel word nie, maar misdaad word gepleeg deur finansiële state beter te laat lyk sodat die aandeelprys nie daal nie.

McCurrie wys daarop dat dit nie deur 'n enkeling gedoen kan word nie. “Dit was 'n enorme maatskappy – iemand sit nie laat snags by sy rekenaar en pleeg dié bedrog nie. Wie is betrokke? Elke enkele senior persoon, direksielid of lid van die belasting-, oudit- of etiese komitee gaan jare lank hierby ingesleep wees. As 'n senior persoon nie hiervan geweet het nie, hoekom het hulle nie geweet nie?

“As die finansiële direkteur, voorsitter en onafhanklike direkteure nie geweet het nie, moes hulle geweet het, so ook die ouditeure.”

Dat Jooste die enigste skuldige persoon is, lyk onwaarskynlik en dui op die “nalatigheid of medepligtigheid” van ander bestuurslede en die direksie – om nie te praat van die grootste belegger nie, Christo Wiese, wat sy geld in Steinhoff ingeploeg het en die skepper van ver­skeie transaksies was, onder meer om Pepkor in te trek en (twee keer) die moontlikheid te opper dat Steinhoff vir Shoprite oorneem.

Ontleders is verdeel oor Wiese se rol. “Dit lyk onwaarskynlik dat hy aandadig sou wees, aangesien hy die afgelope paar jaar 'n groot hoeveelheid van sy welvaart in dié maat­skappy gestoot het, so dis moeilik om te dink hy het geweet dit is 'n Ponzi-­skema,” sê die ontleder wat vertroulik praat. “Maar hy was dalk medepligtig aan dinge wat óf onwettig óf eties twyfelagtig was. Het hy die omvang besef? Dit lyk onwaar­skynlik.” – Netwerk24/Fin24

Kommentaar

Republikein 2026-08-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer