Die 'uil' van Kaleiu00e7i
Die 'uil' van Kaleiu00e7i

Die 'uil' van Kaleiçi

Ronelle Rademeyer
Tydens 'n besoek 'n jaar gelede aan die stad Antalya in Turkye doen ek by die hotel navraag oor 'n boekwinkel waar ek Engelse vertalings van die werke van die bekendste Turkse skrywers kan kry.

Kommunikasie in 'n land waar byna niemand Engels praat nie, bly 'n groot frustrasie en my navraag ontlok nie veel meer as 'n paar skoueroptrekke nie.

Op die laaste dag van my besoek is daar tyd vir 'n anderhalfuur se wandeling deur Kaleiçi, die ou stadskern van Antalya met sy nou stegies en sublieme uitsig oor die seiljaghawe.

Met verwondering stap ek deur die Poorte van Hadrianus, die ou stadspoorte wat in 130 v.C. deur die Romeine gebou en na keiser Hadrianus vernoem is. Dit skei die antieke stadsgedeelte van die moderne Antalya.

Die stegies sluk my in. Ek ruik en kyk en voel en adem die kalei­doskoop van Anatoolse andersheid in. Ek gaan drink çay (Turkse tee) by een van die straatkafees en koop suiker­soet lokum (Turkish Delight) om saam te neem huis toe.

Op pad terug na die ou stadspoorte gewaar ek die verweerde naambord bo 'n ewe verweerde groen houtdeur: The Owl Bookshop.

Opgewonde stap ek in en struikel byna oor die uitgestrekte bene van 'n lang, bonkige man wat op 'n stoel sit en slaap – sy hoed oor sy oë getrek. 'n Kat lê opgekrul op sy skoot.

Hy spring verleë op. Sy Engels is perfek.

Kemal Ozkurt is 'n 60-plusser met 'n diep stem en 'n onversadigbare dors na boeke en die kennis wat dit ontsluit.

The Owl Bookshop bestaan uit drie klein vertrekkies waar die tweedehandse boeke op wankelrige boekrakke tot teen die plafon gestapel is. Hy woon iewers in die agterplaas.

Hier kan jy ál die ou meesters kry: Tolstoy, Dostojefski. . . van Rusland af reg deur tot in Amerika met sy Steinbecks, Salingers en Hemingways.

Later sou ek lees Kemal word deur boekvrate as 'n literary larrikin beskryf. Omdat hy al wat letterkundige werk is al gelees het, maar ook omdat hy kaalkop met die waarheid omgaan.

Kemal het lankal die wag voor sy mond ge-fire en hou hom nie op met doekvoetwoordjies en PC-uitlatings nie. Toe ek hom oor Erdogan en die politieke gebeure in Turkye uitvra, verdun hy nie die realiteit met eufemismes nie.

Ons gesels lank en lekker. Stel my bekend aan Turkye se bestes, vra ek dan en beduie na die boeke.

Hy stap na die Orhan Pamuks op die rak. Elif Shafak se The Bastard Of Istanbul is ongelukkig uitverkoop, sê hy. Daar is nie 'n rugsakreisiger wat nie dié boek aanskaf nie. Gelukkig kon ek dit wel later by die lughawe opspoor.

Hy haal ook die volledige reise van Marco Polo, dik en swaar en stowwerig, van die rak af. My euro's is min en ek moet ongelukkig nee dankie sê.

Toe ek uitstap, groet hy op Afrikaans: “Tot siens.”

Hy het lank saam met 'n Hollandse vrou gebly, vertel hy toe ek verbaas omkyk.

Só kon ek terugkeer huis toe met Orhan en Elif in my tas.

Die afgelope jaar kon ek, as Morfeus my snags die rug keer, saam met hulle die verruklike andersheid van Istanboel verken.

En wonder hoe dit met die “uil” van Kaleiçi gaan.

Kommentaar

Republikein 2025-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer