Die stryd teen geslagsgeweld is almal s'n
Augetto Graig - Vandag praat ons van geslagsgeweld, maar destyds was dit bloot bekend as vrouslaan.
Dit was altyd so algemeen soos steekgras wat klou aan skoolsokkies, maar baie meer onaangenaam. Vrouslaan was in ons gemeentes iets waaroor 'n mens nie uit die huis gepraat het nie.
Dit was daai openbare geheim waarvan almal weggekyk het en maar net die kop geskud het wanneer dit uiteindelik sou lei tot die onvermydelike uitkoms van die dood. Baie mans het hul vroue geslaan tot haar laaste asem ontsnap het, en ons het dit maar aanvaar. Die tekens was daar vir almal om te sien, maar ons het dit geïgnoreer. Die verskoning was altyd iets te doen met dissipline en 'n vrou wat haar plek moes ken.
Vandag het dinge verander.
Die samelewing aanvaar nie meer vanselfsprekend wat 'n vrou se plek is nie. Kaalvoet, swanger en in die kombuis is nie meer die standaard toestand van 'n vrou in die huwelik nie. Vandag se vroue werk net so hard soos mans in die werkplek en 'n vrouebaas is nie meer iets om oor wenkbroue te lig nie. Ook by die huis het die rolle veel verander en 'n vrou se plek is glad nie meer so eenvoudig nie.
Nogtans bly die praktyk van vrouslaan algemeen, veral in Namibië waar geslagsgeweld nou al 'n wagwoord is vir politici se nuttelose preke. Die regering is blykbaar gekant daarteen en wêreldwyd word 16 dae teen geslagsgeweld gevier. Vrouebemagtiging is iets wat aangemoedig word. Dit is als goed so.
Die probleem is dat hierdie nuwe benadering nog glad nie ingesink het nie, of ons nou praat van vroue of mans of ons samelewing in die algemeen. Baie vroue stem nog saam dat sekere gedrag 'n pak slae verdien. Mans voel nog dat hul gesag in die huisgesin met die vuis afgedwing moet word.
Boonop is geweld al te gewoon. Ons slaat nie net nie, ons moer mekaar. Ook in die verhouding word daar tot mes gesteek, en moenie laat daar nog 'n bietjie jaloesie ingemeng word nie, want dan kom ons maklik na aan moord. Maar selfs in die oertyd van Afrikaans en al die beginsels wat daarmee saamgegaan het, was daar die duidelikheid oor wat dit is om man te wees, en een van die beginsels was dat 'n ware man nie 'n vrou slaan nie.
Wat het dan gebeur dat hierdie beginsel so maklik uit die venster gegooi word as die kom by verhoudings, die huwelik en geweld in die huis? Hoekom verwag die gemeenskap soveel minder van 'n man as hy eers getroud is? Hoe is dit moontlik dat ons dit goedkeur wanneer 'n man sy vrou timmer? Ek self sal nie weet nie.
Wat ek wel weet, is dat dit kinderagtig is as mens jou eie optrede verskoon, gebaseer op iemand anders se optrede. “Die vrou het my so kwaad gemaak,” is maklik wat mens hoor as jy 'n man vra hoekom hy sy vrou met 'n blou oog gelos het. “Sy respekteer my nie” of “Ek moes haar 'n les leer,” is net so algemeen. My vraag is, wat maak dit dan van jou as man? Watse les leer jy deur om jou liefling so pak te gee, en waar eindig dit als?
Dit eindig altyd in trane, in hartseer, verskeurde huisgesinne, gebroke kinderjare en in verlore lewens. Dit is die enigste les wat deur geweld in die huis geleer kan word. Dit is al wat duidelik oorbly van die gestry en geveg tussen ouers. Vernietiging. Vir mans, veral dié wat met Afrikaanse beginsels grootgemaak is, is dit nou die tyd om dit stop te sit. Sit voet neer en sê uitdruklik nee! Vrouslaan in Afrikaans is uit!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie