Die storiekombers
Elvira Hattingh - Die stories wat hy sou kon vertel! Was dit ‘n persoon, sou ek sê ons moes op een van hierdie vreemde, reënerige herfsdae in Windhoek oor ‘n koppie warm sjokolade rondom ‘n kaggelvuur gaan sit. Of miskien op ‘n koelerige naweek se namiddag langs ‘n kampvuurtjie gesels.
Nie dat die kombers eintlik ál sy stories met almal moet deel nie.
Ma-hulle het die geel “fleece” kombers sowat ‘n dekade gelede gekoop. Dit was ‘n koue Swakopmund-vakansie en ek was ‘n baie vars student wat baie swaar tydens Potchefstroom se herfsaande begin kry het.
“Fleece” was toe die wonderlikste, jongste uitvindsel teen die koue en glo my, ‘n Namibiër kort wapens en uitvindsels as dit koud raak langs die Mooirivier. Veral as daai wapen soos “huis” kan ruik.
Die kombersie was net betyds vir daardie eerste Junie-eksamen. Deurnagaande voor die boeke in Eikenhof se koshuiskamer, met my voete op die verwarmer, koffie of warm sjokolade om die sandman en sy slaapsand weg te hou.
Hoeveel nagtelike ure, hoeveel geleer? Dis tussen my en jou, geel kombers – ’n troos in ysige wintersnagte!
Op ontspan-aande is die kombers nader getrek as studente-vriendinne om die beurt koffie en beskuit in maats se kamer geniet. Dan is daar lang trane deur die Namibiërs en Nelspruiters en Kapenaars gehuil oor ons huise wat so ver is. Die studente-stories - dalk is dit goed dat die kombers niks kan oorvertel nie. Moet niks sê oor al ons huis-toe-verlang trane nie!
Toe ek die groot man met die mooi hart, blou oë en kuiltjies ontmoet, moes die “fleece” ons hande-bo-die-kombers vrykombers raak. Piekniekkombers, voor-die-TV-slaap kombers en later ook ons honeymoon-kombers.
Komberse praat nie uit nie.
Sou die kombers vertel van ons broekskeurdae – twee jongmense met groot liefde wat hard werk vir min geld en groot droom. Van reis en verre lande en groot sukses, het die kombers saam met ons gedroom.
Meer as ‘n handvol jare gelede, pak ons al ons goedjies in ‘n boks of 10 en trek terug woestynland toe, geboorteland toe. Kon nie meer met die Sodom en Gomorra leef nie, die huis roep te hard en die kombers kry weer eens ‘n ereplek voor in die kar. Dit was immers winter en langpad.
Die storiekombers het toe al bietjie verbleik, maar onder hom kon ons warm en aan die droom bly.
Vind die kombers sy plek – eers op die sitkamervloer, later ‘n opgradering na ‘n poef en naderhand ‘n nederige sitkamerbank. Soms sommer om die bene as dit koud raak, altyd met ‘n spinnende katjie iewers tussen sy vriendelike hitte.
Binnekort sal die geel kombers ook die mensie toevou wie se voetjies nog so dierbaar hier onder my ribbes skop. Sal sy haar pa se kuiltjies en blou oë hê? Wie weet? Net ‘n klein rukkie, dan het die kombers nog ‘n storie om te vertel, nog ‘n mensie om in droomwarm woestynliefde toe te vou.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie