Die rites van man word
Juffrou het gepraat. Ons laaitie moet verdwaelde-baardhare-loos wees as hy môre inklok.
Vir weke lank word al oor die onvermydelike stap in 'n tienerlewe getob. En vir keer het die gety gedraai.
Pagoed en boeta (eiename word weens die emosionele wipwa in dié storm-en-drang lewensfase verswyg) is die einste agtermiddag voor die skeerrak in 'n supermark.
Ons soek daar 'n nie-elektriese middelprysnommer uit en 'n kannetjie spuitroom. Gelukkig het die mes twee lemmetjies by, en sulke jong manne skeer darem nog nie elke dag nie, want net een lemmetjie jaag jou 'n stoppelwegskrik-driesyferbedraggie uit die sak.
Vroegaand tuis moet pa eers wys hoe die inlywingsepisode van die ritueel werk. Vir 'n oomblik dink Dapperrerige Daniëltjie dit gaan darem lekker wees om dié les te gee.
Probleem: Hierdie baardman besit geen skeermes nie, behalwe vir 'n haarskeermasjien. Nóg wil hy van sy bakkieshare ontslae raak.
Nee, daar skuil nie in my verlede een of ander skeertrauma wat my die heilige horries vir die lemme gee nie. Inteendeel, ek het goeie herinneringe aan my eerstekeerskeer op hoërskool (veel later as boeta) en daarna.
Mense wat lede van die baardbrigade van luiheid verdink, moet ook maar ligloop. Minstens versmoor mens nie agter die klas masker nie.
Persoonlik sukkel ek met 'n swak ken; vandaar dat ek altyd minstens 'n bokkie wys.
Watter lekker saamdoending was dit nie. Eers die bietjie warm water in die wasbak intap, die wit skuim op die kolle kry waar dit (vir nou) hoort, die wys hoe om die slimtoestel met 'n sagte en egalige hand merendeels sy eie ding te laat doen.
Magoed het in 'n stadium kom inloer, maar is gou terug na die binnekamers van die kaia des Boois verban. Al was dit sy wat in moederlike voorsienigheid lankal twee buisies bederf vir jong, sensitiewe baardvelle aangeskaf het.
Een van dáái smeer ons liggies na die tyd aan. En pagoed wys sommer ook hoe 'n mens naskeermiddel inspan.
Net 'n titseltjie. Die meisie, haar pa en ma en hulle kwaai hond moet jou nie al by die tuinhekkie ruik nie.
Roetine word gebore uit die salf van repetisie, imitasie en simulasie. Na-aap is 'n lelike woord?
Pagoed dink by homself ons maak te min tyd vir hierdie en ander rites. Dalk een van die oorsake hoekom sommige jongmense ankerloos uitdraai? Want in hierdie “klein” take, die herhaling daarvan, en veral die meegaande gesprekke, leef die drade wat een geslag aan die volgende bind.
Toemaar, sê ek vir 'n seun wat wonder hoekom sy hare nog nie langer mag wees nie. Die dag sal kom wanneer jy sulke konvensies kan begin uitdaag. En daarvoor sal daar genoeg tyd wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie