Die (riool)water loop op Drimiopsis

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Vir die afgelope twee maande leef leerlinge van die Hoërskool Mokganedi Tlhabanello saam met die stank van poele suiwer riool wat orals op die skool- en koshuisterrein op Drimiopsis naby Gobabis lê. Van die riool loop by die eetsaal verby, met die stank wat volgens die skoolhoof “ondraaglik” is.

“Dit loop uit die dreine en voor die klaskamers. Dit stink en hou ‘n groot gesondheidsrisiko in. Die kinders raak siek,” het mnr. Urbanus Kavari in ‘n telefoniese onderhoud gesê.

Volgens Kavari “moet die kinders bosse toe” om dít eerder as toilet te gebruik.

“Daar is water en elektrisiteit en die kinders gebruik die toilette by die koshuis, maar moet dit met emmers uitspoel.”

Volgens hom was die ministerie van werke en vervoer gister by die skool om die saak te probeer beredder.

Hulle het water uitgepomp en probeer die blokkasie van pype herstel. Die riool loop al van die twee weke voordat die skole vir die tweede termyn (op 17 Augustus) gesluit het,” het Kavari gesê.

Die direkteur van onderwys vir die Omahekestreek, mnr. Pecka Semba, was volgens Kavari ook al by die skool vir ‘n ter plaatse ondersoek.

“Hy het dit ook by die permanente sekretaris in die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, aangemeld. Volgens hom geniet die saak aandag.”

Dit is egter nie die eerste keer wat die dreine by die skool en koshuis oorloop nie, sê Kavari.

“Dit het al voorheen ook gebeur en dan kom maak die ministerie van werke dit reg. Net ‘n week later is dit weer dieselfde probleem, hulle sal al die pype moet vervang, genoeg is nou genoeg!”

Op ‘n vraag of beskadigde plafonne en deure by die skool en koshuis intussen herstel is, het Kavari gesê dit was die geval, “maar alles is weer verniel”.

“Die kinders gaan deur die plafonne, hulle skuil daar en bêre goed soos dagga hier. Die deure is opgesit en net weer so verniel. Die mense vra wat doen die toesighouer en die onderwysers, maar dié goed gebeur saans,” het ‘n moedelose Kavari gesê.

Pogings om met die direkteur van onderwys vir die streek in verbinding te tree, was onsuksesvol, en al die landlynnommers van die ministerie se kantore op Gobabis was beset.

Steenkamp het gister bevestig geld is reeds aan die streek beskikbaar gestel om opknap- en herstelwerk te doen. Die kwessie geniet dringende aandag, het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer