Die Prins is terug!
Die Prins is terug!

Die Prins is terug!

Die veteraan is seker dat hy nou weer sy passie en doelgerigt­heid in die sport herwin het.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Ná twee jaar op die kantlyn is Immanuel Naidjala, kapokgewigbokser wat tevore die IBF internasionale, WBO Afrika-, WBA Pan Afrika- en WBO internasionale titels gehou het, op pad terug na die bokskryt.

Die 35-jarige Namibiër klim op 4 April in Windhoek by die NamPower-konvensiesentrum in 'n kapokgewiggeveg (53.5 kilogram) oor tien rondes teen sy 33-jarige landgenoot Jonas Matheus deur die toue.

Ná Naidjala se laaste drie ­opeenvolgende teleurstellings toe hy belangrike gevegte op 1 Maart 2017, 8 Desember 2017 en 24 Februarie 2018 verloor het, het hy besluit om die handskoene vir eers op te hang.

Hy is 'n ervare bokser met 29 gevegte (198 rondes) op sy kerfstok. Hy was onoorwonne in sy eerste 18 beroepsgevegte, voordat hy in 2013 onsuksesvol vir Tomoki Kameda in Japan om sy WBO-wêreldtitel gaan uitdaag en met punte verloor het.

In Naidjala se laaste geveg is hy deur Jason Maloney (Australië) in Melbourne met 'n tegniese uitklophou gestuit. Maloney se rekord sedertdien wys hy is g'n hierjy nie – hy word tans deur die WBC, WBA en IBF as hul vierde aanspraakmaker op hul wêreldranglyste aangetoon.

Die WBO reken hom as die tweede aanspraakmaker op hul wêreldtitel wat deur John Reil Casimero (Filippyne) gehou word.

The Prince (Naidjala se alias as bokser) het 13 van sy 23 oorwinnings (45%) met 'n uitklophou gevier, terwyl hyself vyf keer die knie moes buig. Hy is een keer uitgeslaan en het ook in 2013 een keer 'n gelykopuitslag ervaar.

Of Prince ná twee jaar die roes gaan afskud, sal net die tyd leer. Imms Moses, afrigter van AC-boksgimnasium in Windhoek, is immers 'n gesoute kalant en is goed vertroud met Naidjala se vermoëns.

Moses se vernuf en internasionale ervaring kan net die regte medisyne vir Prince wees, wat ook sedert sy laaste verskyning die MTC Nestor Sunshine Tobias-stal verlaat het.

Matheus is 'n hotklou en 'n voormalige Olimpiese bokser (Londen 2012). Hy sal beslis respek vir Naidjala se vuiste hê. Sy getuigskrif van 13 oorwinnings, twee verloor en een gelykopgeveg het wel nog nie die hoogtes van Prince se loopbaan bereik nie, Maar hy is die heersende internasionale kapokgewigkampioen van die Internasionale Boksfederasie (IBF) wat hy op 22 Julie 2018 in Umtata, Suid-Afrika, verower het.

Matheus is vier jaar laas geklop en in sy laaste geveg in Desember op Rundu het hy Robert Kachiza van Malawi binne die eerste ronde tot oorgawe gedwing.

Met net twee uitklophoue as beroepsvegter is Matheus nie as 'n gevreesde uitklopkoning bekend nie, maar hy is taai en kan sy vuiste goed gebruik om punte in te samel.

Matheus verskyn nie op die ranglys van enige wêreldbeheerliggaam nie. Hy is nogtans huidig in die kollig omdat die Britse promotor Scott Patrick Farrell (Global Boxing Stars) vir hom, Lazarus Shaningwa en Matias Hamunyela onlangs onder sy vaandel gekry het. Die boksaand op 4 April word in samewerking met Farrell se GBS aangebied.



PASSIE HERONTDEK

Naidjala het met Republikein oor sy voorgenome hertoetrede gepraat.

“Nadat ek my laaste geveg in Australië verloor het, moes ek eenvoudig gaan sit en oor my toekoms besin. Ek was voor die geveg in Melbourne reeds uitgebrand en het my lus om te boks verloor. Ek het nie meer die honger gehad om te veg nie en wou ook nie oefen nie.

“Ek het na die kus getrek en voltyds begin werk. Verlede Desember het ek weer vir die pret begin oefen en skielik besef ek wil ná twee jaar weer boks! Ek kan nie wag om elke dag in die gimnasium te kom nie. Dit is 'n plesier en lekker vir my om weer te oefen.

“Ek sien geweldig uit om weer die opwinding in die kryt te ervaar. Ek sal steeds as Die Prins in die kryt klim en my goue kroon dra. Daai blink ding sit nie verniet op my kop nie.

“Vir Jonas het ek baie respek. Hy is 'n goeie bokser en boonop linkshandig. Hoewel ek in die verlede bietjie teen hotkloue gesukkel het, is ek reg om myself aan my getroue ondersteuners en aan myself te bewys.

“Die vierde April in Windhoek sal bepaal wat die toekoms vir my inhou. Ek wil graag goed vaar en die geveg wen. Ek is net 35 jaar oud en daar is nog baie skop in my vuiste. Ek sien uit om al my ondersteuners 'n slag weer te sien.

“My kop en lyf is reg. Ek is gereed om weer 'n kampioen te word,” het Naidjala gesê.

Die Rising Stars of Africa-toernooi wat plaaslik deur Moses gereël word, is veral op jong opkomende boksers gemik.

Moses sê: “Ek wil graag die jonger ouens 'n kans in die kryt gee om naam te maak. Net dalk is daar talent wat eendag in die toekoms die lang pad na 'n wêreldtitelgeveg kan stap.

“Wat Naidjala betref, is ek seker wat hy gaan doen. Hy is terug om weer sy boksloopbaan te hervat en gaan sekerlik die pap dik aanmaak.”

Die 18-jarige Flame Nangolo (3-0) teen Nashilongo Teofilus (1-1-1) sal in die hoofgeveg mekaar pak. Hierdie eer wys hoe opgewonde waarnemers oor die kapokgewig Nangolo is.

In ander voorgevegte kom Andreas Johannes teen Gerson Veeta (4 rondes) te staan. Vir John Shitilitha moet nog 'n teenstander gevind word. Lazarus Shaningwa teen Dominikus Weyulu, Sacky Amutja teen Andreas Nghinaunye en Matias Hamunyela teen Salatiel Moses rond die spyskaart vir die aand af.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer