Die paradys lê in die Kunenestreek
Tanja Bause - Ek was as kind in die gelukkige posisie dat my ouers nie net baie lief vir die land en sy mense was nie, maar ook baie lief vir die natuur en kamp. Die gevolg was dat ons elke vakansie of langnaweek iewers gaan kamp het. Dikwels was daar nie eers kampeerplekke nie en ons het sommer in ’n rivier of onder ’n boom gekamp.
Dit is hoe ek die Kunenestreek vir die eerste keer in my lewe as tiener leer ken het. Kommunale kampeerplekke of lodges het nie bestaan nie en ons het op plekke soos die Khowarib Schlucht wild onder die sterre geslaap. In ’n klein rivier wat die hele jaar deur ’n fontein van water voorsien word, het ons die dag se stof afgewas. Ons het in die sagte riviersand plat op ons boude rondom die kampvuur gesit, geluister hoe die water oor die klippe loop en na die duisende sterre gekyk.
Ek was bevoorreg dat my ouers my ’n liefde en waardering vir die natuur, diere en mense deur die kampeervakansies geleer het. Hulle het ons kinders geleer die enigste ding wat jy agterlaat, is jou voetspore. Jy het al die ander goed in die natuur ingebring, dan kan jy dit ook weer uitneem, is ons van kleins af geleer.
Ons is geleer om geen dier leed aan te doen nie en te besef dat ons, die mens, te alle tye die indringer in hul gebied is en dat ons hulle met respek moet behandel – net soos ons geleer is om die plaaslike gemeenskappe met respek te benader en behandel omdat ons net gaste in hul gebied is.
Ek onthou toe ons vir die eerste keer na die Ongongo-watervalle, ook in die huidige Kunenestreek, gery het. Die pad soontoe is droog, stowwerig en soos die res van die Kunenestreek met klippe besaai.
“Die Kunenestreek is die plek waar klippe gebore word en waarna hulle terugkeer om te sterf. Dit is hoekom ons so baie klippe hier het,” het ’n inwoner van die streek eendag verduidelik.
Maar ek dwaal van my storie af.
Ons het ure lank oor klippe gery op iets wat my pa belowe het die pad is. Die pad het skielik tussen groot rotse gekronkel en bergaf gelei. Toe ons onder kom, kon ons ons oë nie glo nie, en het ons gedink ons verstand trek ons ’n streep.
’n Liggroen, groot waterpoel met heerlike, koel, heupdiep water het voor ons gelê.
Die poel is gevoed deur ’n waterval wat omtrent vyf meter hoog is. Die omgewing was grasgroen met talle skadubome. Ons het die Paradys gevind, het ons gedink, terwyl ons klere en al in die water gespring het.
Ongelukkig was ek sedertdien nog nooit weer terug na die Ongongo-watervalle of die Khowarib Schlucht nie. Baie het verander. Daar is nou ’n kampeerplek by Ongongo met warmwaterstorte en spoeltoilette wat deur die plaaslike gemeenskap bestuur word. Mense behoort ook nie meer wild in die Khowarib Schlucht te kampeer nie, sodat die gemeenskaplike kampeerplekke geld kan verdien.
Ek gaan later vanjaar terug Ongongo toe om my groot verjaardag te vier, en ek kan nie wag om ná ’n lang dag se ry weer in die waterpoel te gaan sit nie, en dié keer is ek oud genoeg om dit met ’n yskoue bier in my hand te kan doen.
Dan word die stof afgespoel en later die aand, terwyl die kampvuur brand, word na die sterre gekyk.
Mens word immers net een keer 50 en dit behoort by ’n klein paradys in ons land gevier te word – ’n plek waar die siel gevoed kan word en waar waardering en liefde vir die natuur, diere, ons land en mense weer ’n inspuiting kry.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie