Die motor van die toekoms

Gerine Hoff
Francois Lötter



Daar is manne (en vroue) wat ’n enjin wil hoor brul wanneer die petrolpedaal getrap en wéér getrap word. Dis nou wat ’n mens in Engels rev noem.

Maar ai, kan jy jou voorstel hoe besonder stil en rustig jou woonbuurt sou wees as alle motors elektries aangedrewe was? Of dan ’n hibried was soos die statige Toyota Prius, wat deur ’n bietjie battery en ’n bietjie brandstof aangedryf word?

Geruisloos trek hy weg, en dan is daar net ’n sweem van ’n enjingeluid in jou ore as die brandstofenjin inskop. Voorwaar aangenaam en ’n besonderse ervaring.

Maar ’n mens kan amper sê die Prius is mooi van lelikgeit. Dis omdat die koddige vooraansig, die oninspirerende agterstewe en vlerk asook die lomp oop ruimte bo die agterwiele om die verkeerde redes die aandag trek. Maar moenie dat dit jou te veel pla nie. Die kattebak is reusagtig en die binnekant gerieflik ruim en ’n plesier om in te sit. As jy eers binne is, maak dit nie saak hoekom mense na die motor staar nie.

Jy ry immers in ’n motor waarvan wêreldwyd al meer as 3 miljoen verkoop is! Die eerste Prius is byna 20 jaar gelede in 1997 in Japan bekend gestel.

Dit is die motor van die toekoms. Raak dus maar gewoond aan hom. Jy gaan nie spyt wees nie. Jy kry nie net waarde vir geld nie, maar ook ’n aangename bestuur-ervaring. Boonop sal jy baie petrolgeld spaar.

Die hibried se enjin met die outomatiese ratkas is lewendig genoeg en lewer 100 kW teen 1142 +e Nm, en die prys is om en by N$450 000. Maar dit is elke sent werd. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer