Die meeste reën sedert 2010–'11

Nasa se aarde-sterrewag sê Namibië het in Januarie reënneerslae van dubbel tot trippel die normale syfers op spesifieke plekke ervaar.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die huidige reënseisoen het tot dusver vir die meeste reën sedert 2010–’11 in Namibië gesorg. Terselfdertyd bly voorspellers optimisties oor reënverwagtinge, veral vanaf volgende week en tot in Maart.

Volgens Nasa se aarde-sterrewag (Nasa Earth Observatory) is dit veral Januarie wat ’n groot verskil vir Namibië gemaak het. Dié diens deel ontdekkings oor die omgewing, die aarde se stelsels en klimaatstories uit hul navorsingswerk, modelle en satellietsendings met die publiek.

“In Januarie het Namibië reënneerslae van dubbel tot trippel die normale syfers in die noordoostelike, sentrale en suidelike dele ervaar,” skryf Michael Carlowicz van Nasa se wetenskapstelsels en toepassings.

Die sterrewag het twee satellietfoto’s aanlyn gepubliseer – een van 29 Januarie 2020 en toe weer 7 Februarie 2021 – wat vergelyk hoe groen Namibië intussen geraak het. Die foto’s is deur die MODIS-kameras op Nasa se Terra-satelliet geneem.

“Windhoek se langtermyngemiddeld vir Januarie is 85 mm, maar dit het 228 mm reën ontvang. Dit volg ook op ‘n Desember wat reeds 25% méér reën as normaal gebring het,” is geskryf.

‘AFWYKING’

Intussen het Amerika se Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) ook die “reënafwyking” op hul kaarte aangeteken, waarvolgens die oorgrote dele van die land meer reën as normaal gehad het – sommige plekke, soos die sentrale weste, het hiervolgens tot 600% van hul normale neerslae in Januarie ontvang.

Dit is egter met uitsondering van die uithoeke van die land, soos die verre noordweste asook die verre suidweste, wat steeds droog is. Dele suid van die Oranjerivier trek ook steeds swaar.

Wat die meer as normale hoeveelheid reën in Suider-Afrika betref, blyk Namibië veral die gunsteling te wees. Daarteenoor is heelwat minder as normale reën in Januarie in die westelike dele van Angola en Suid-Afrika ontvang, aldus NOAA se kaarte.

Carlowicz verduidelik Namibië geniet gemiddeld sowat 300 dae van sonskyn per jaar en dat die Benguella-seestroom vir volgehoue, droë winde sorg, wat beteken die land is oor die algemeen baie droog.

“Die reënseisoen tussen November en April is ‘beskeie’, as dit vergelyk word met die meeste neerslagstandaarde oral oor die wêreld. Vanjaar het egter ‘n oorvloed reën gebring,” het hy gesê.

SIKLIES

‘n Navorser verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, Frank Eckardt, skryf vanjaar was ‘n goeie reënjaar – ook in Botswana en Suid-Afrika. “Ons het soortgelyke goeie reën in die jare 2000 en 2011 gehad.

“Dit is siklies van aard, wat noodsaaklik is om bogrondse en ondergrondse bronne van water aan te vul. Dit sal ook help met weiding vir vee en later, biomassa vir verbranding. Teen April sal die reën egter opklaar,” het hy gesê en bygevoeg dat die gebied al droër oor die lang termyn raak.

Intussen het Landwater, 'n nieregeringsorganisasie wat satellietfoto's wetenskaplik analiseer en interpreteer, gesê méér reën kan vanaf laat vandeesweek asook volgende week voorkom, met veral reën wat in Maart kan voorkom op plekke wat nog relatief droog is.

Goeie reëndekking word tydens die res van die seisoen in Namibië verwag, alhoewel dit nog onseker is hoe ver dit die noordwestelike dele van die land sal indring. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer