‘Die lewe wil gelewe wees’
Augetto Graig – Die wêreld verander om ons, en hier sit ons in die middel van groot ontwrigting. Tog is daar stilte. Haal net asem. Kalmeer jouself en wees ’n oomblik stil. Ek voel stilte word nie altyd waardeer nie en ’n mens besef eers later in die lewe die onskatbare waarde daarvan. Nogtans is dit die moeite werd om aandag daaraan te skenk, al is dit net om jouself te herinner dat dit wel bereik kan word.
Die geraas van die moderne lewe is ontsettend versteurend en soms kan dit voel dat mens net nie kan wegkom nie. Nee, die stilte is steeds daar binne-in jou. Onthou, jy ervaar die wêreld slegs deur jou sintuie en liggaam. Jy hoor die klanke, ruik die aangename en onaangename reuke, voel met jou vingers en voel die groewe, of proe hoe bitter die pil is wat jy moet sluk. Maar dieselfde liggaam is net ’n vaartuig van wie jy is. Jou gees is nie direk in kontak met die buitewêreld nie.
Onttrek jouself dan, al is dit net vir ’n oomblik, en ontsnap ’n rukkie van die malligheid en onsekerhede van die lewe. In die stilte kan mens gemaklik jou gedagtes orden, nadink en rangskik. Jy kan bietjie orde in jou lewe skep, en vir ’n slag belangrike kwessies takel en lewensbesluite neem. Dit is net jy wat jouself kan oordeel, en waar jy jouself kan vergewe. Daar in die stilte.
Maar daar is nie lewe nie. Die lewe wag hier buite, en hy weet daar is niks in die werklikheid wat met hom kan vergelyk nie.
“Die lewe wil gelewe wees,” het my ouma altyd gesê. Ons moet lewe. Ons moet meeding. Ons moet wen en ons moet verloor. Dit is die lewe. Hy kom met die vreugde, die liefde, die oorweldigende oorspoel van emosies, maar ook met die hartseer, die moedeloosheid, mislukking en teleurstelling. Hy kom met die geraas.
“Laat dit juig en vrolik wees,” het my oom altyd gesê.
Ek dink dit is ’n wenresep vir die lewe. Binne al die chaos is daar altyd ook iets om oor te juig. Mens kan eintlik net self besluit om vrolik te wees; jy het nie eens ’n rede nodig nie. Maak daardie keuse, as dit jou pas.
Ek onthou eenkeer toe ons aan die verkeerde kant van die snelweg, op ’n brug in ’n vreemde dorp, die verkeerde oprit geneem het en hoe groot die bestuurder geskrik het toe die voertuie van voor af op ons afpyl: “Ry jy net Buks, jy’t mos alleenreg,” het my oom aan hom gesê, en met dit kon hy ons na veiligheid stuur.
My punt is die stilte bly steeds binne-in jou, en die lewe sal altyd hardop raas, maar dit is jy en net jy wat dit als beleef. Geniet die reis.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie