Die lewe gaan voort
Die lewe gaan voort

Die lewe gaan voort

[email protected]
Sanet de Waal
Augetto Graig

Oorleef, hou aan, byt vas! Dié boodskap word herhaal en beklemtoon. Dit word gedurig genoem en aanhoudend versoek in hierdie tyd van die pandemie. Hierdie taktiek is so oud soos die berge.

Die mensdom kom keer op keer by die punt waar hulle die dood in die gesig staar.

Net soos die aansporing noodsaaklik is, moet mens ook erken dat dit tog ’n klug is. Die feit bly staan, ons almal gaan eendag dood. Die dood kom nog altyd wanneer hy wil, waar of hoe hy voel, blitsvinnig of met ’n duisend fyn snytjies. Die dood laat nie vir hom voorskryf nie.

Die lewe bly nog altyd ’n voorreg, en nie een van ons weet of ons môreoggend weer die geleentheid gaan kry om op te staan nie. Ons vergeet met ouderdom en volwassenheid ons nie in beheer nie, en al tref ons hoeveel voorsorgmaatreels is daar steeds die onwis, waaraan ons niks kan doen nie.

Dit is ook nie die punt nie. Die lewe wil gelewe word.

Die wolk van vrees wat mens in jou eie kop skep, kan jou mislei en veroorsaak dat jy die onmiddellike wonder van jou eie lewe heeltemal miskyk.

Onttrek jouself uit dié denkwyse. Kom terug na die werklikheid, na dít wat om jou gebeur. Neem deel en doen jou deel. Dit sluit in voorsorg, maar nie die kommer wat daarmee gepaard gaan nie. Let op, hou dop, strek uit, raak aan, skep asem en sug soms hardop. Jy is nog hier. Wees hier. Daar is steeds baie om te ontdek; ’n unieke lewe vir jou om te ervaar. Hou op om aandag te gee aan die prentjies van ondergang in jou kop, op die televisieskerm, op jou slimfoon of in die koerant. Jou verbeelding is a wonderlike hulpmiddel, maar dit kan te maklik handuit ruk. Jy moet dit aktief in toon hou.

Soms is dit makliker om praktiese take te doen om jou fokus op die hede te hou. Ek verkies dikwels om myself in moeilike tye besig te hou. Dit kan ook ’n lokval wees dat ek té besig raak om die wonderwerke in my eie lewe raak te sien. As ek nie my lewe kan waardeer en geniet nie, hoekom is dit daar? Hoekom bestaan ek dan?

Hoekom moet ek lewe, oorleef, aanhou, vasbyt? Omdat my lewe ook bydra tot ons lewens, en ons lewe tot myne. Geliefdes, familie, gemeenskap en die hele samelewing is gekoppel aan my, en ek aan hulle. So gaan ons almal saam deur hierdie vreemde tyd, en so het ons mekaar nodig. Boonop is ek lief vir my lewe. Ek wil lewe terwyl ek die kans het.

Ek wil verbaas wees, ek wil verras wees, ek wil vertroetel wees en soms gekielie word. Ek wil lag en skree en vrolik wees. Dit kom met hartseer en huil, dit kom met verlies en totsiens, met treur en herinnering, en ek weet dit. Bittersoet. So smaak die lewe.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer