Die legkaartstukke van finansiële vryheid

Meisies mag nie met hout werk nie? Probeer vertel dit vir hierdie vlytige ouma.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek was nog altyd baie lief daarvoor om met hout te werk. Toe ek op skool was, is meisies nie toegelaat om houtwerkklasse te neem nie. Ons moes huishoudkunde neem en naaldwerk leer,” vertel Karin Krauer (69), die eienaar van Karin’s Woodcraft in Walvisbaai.

Die gebore Windhoeker het vir haar eerste skooldae by die Primêre Skool Orban aangemeld. Vanaf graad 5 tot matriek was sy in die Deutsche Schule Lüderitz, nadat die familie na die suidelike kusdorp verhuis het. Haar pa het ’n slaghuis daar geopen.

Karin se ouers het in 1967 weer getrek, dié keer na Walvisbaai waar haar pa die Atlantic Meat Market slaghuis oorgeneem het. Sy het egter in Lüderitz agtergebly om haar matriekjaar klaar te maak.

“Aan die einde van 1970 was my ouers in ’n groot motorongeluk betrokke en ek en my broer, Rolf, het my pa se slaghuis in Walvisbaai oorgeneem. My broer het ’n jaar later met sy universiteitsopleiding begin en ek het agtergebly en die slaghuis verder bestuur.”

In 1972 het Karin in Kaapstad ’n diplomakursus by ’n sekretariële kollege aangepak.

“Ek het vir drie jaar as ’n sekretaresse gewerk, maar dit was nie juis lekker nie en ek was glad nie gelukkig nie. Ek het weer by my pa se slaghuis uitgehelp, maar ek wou met hout werk.

“Meisies was in daai jare nie toegelaat om houtwerk te doen nie. Ons moes huishoudkunde as vak neem. Toe ek in die privaatskool in Lüderitz was, het die onderwyser wat houtwerkklasse aangebied het dit in die namiddae gedoen en ek kon my grootste wens vervul en met hout werk.

“Ek is vandag nog baie dankbaar vir die onderwyser en sy begrip, dat hy my geïnspireer om met hout te werk, al is ek ’n meisie.”

In 1973 het sy en Dieter in die huwelik getree en drie kinders is gebore.

“Ná die geboorte van my kinders het ek my eerste handsaag gekoop en begin om met hout te werk. Aan die begin het ek die sprokiesfigure wat in kinders se kamers opgehang word, ontwerp, uitgesny en geverf.”

Baie van haar kennis het sy by die houtwerkonderwyser in Lüderitz geleer. Sy het haar kennis uitgebrei deur boeke te lees en op die internet navorsing te doen.

Dertig jaar gelede het sy ’n elektriese saag gekoop en nog nie teruggekyk óf opgehou om met hout te werk nie.

Karin spesialiseer in die maak van legkaarte – veral van verskillende diere.

“My broer het in Amerika gewoon en hy het my liefde vir houtwerk baie ondersteun. Hy het altyd vir my vir Kersfees en vir my verjaarsdag boeke oor houtwerk gestuur. Hy het ook vir my ’n boek oor houtlegkaarte gestuur en dié gogga het gebyt,” het sy gesê.

STELSELMATIG

Karin het baie van haar legkaarte self ontwerp.

“Om die legkaart te maak, is ’n baie lang proses wat begin met die koop van die hout. Dan moet die hout geskaaf word. Die motief word daarop geteken en uitgesaag.

“Dan moet al die gesaagde hoeke afgerond word en die stukkies bo en onder glad geslyp word. Hierna teken ek op elke dier die oë; die legkaartstukke wat geverf moet word, word geverf. Ek teken ook die patrone, soos byvoorbeeld op die kameelperd se vel. Laastens kry elke stuk twee lae vernis.”

Karin doen alles met die hand – iets waarop sy baie trots is.

“Ek gebruik glad nie ’n lasersnyer nie.”

Sy is in staat om nagenoeg 70 verskillende legkaartontwerpe te doen.

“Ek maak baie van hulle met donker en ligte hout. Byvoorbeeld wanneer ek ’n kat-mamma maak met drie babas, dan maak ek nes ek lus is een babakat van ligte hout en twee van donker hout, of omgekeerd. Of ek maak die ma van donker of van ligte hout, nes ek voel. Dit beteken dat verskeie variasies van die kat-mamma met drie babas beskikbaar is. In die meeste van my legkaarte word stukke van ligte of donker hout vermeng.”

Karin se man is in 2011 oorlede en sy kon finansieel kop bo water hou deur haar houtwerk.

“Ek is in die gelukkige posisie dat ek my stokperdjie my werk kon maak. My ‘werk’ is nie net vir my ongelooflik lekker nie, maar nadat my man oorlede is kon ek aangaan met my lewe en myself onderhou.”

Sy maak nie net legkaarte nie. Sy maak ook Kersfees- en Paasfeesversierings, klein voertuie, yskasmagnete, toiletpapierhouers, staanders vir servette en kerse en natuurlik is alles van hout gemaak.

“Ek kan ook vir kliënte spesiale wense in legkaarte maak. Byvoorbeeld was daar ’n toermaatskappy wat ’n Land Rover as ’n legkaart wou hê. Ek het dit ontwerp, uitgesaag en gemaak. Mense kan my met hul spesiale wense kontak, of hulle kan na my vertoonlokaal kom kyk. My nommer is 081 259 2307.”

“Ek verkoop ook my goed by Kersfeesmarkte of by die Green Market wat op die laaste Saterdag van elke maand in Swakopmund gehou word,” sê die trotse ouma van ses kleinkinders, van wie die oudste 22 en die jongste vyf jaar oud is.

In Windhoek is haar werkstukke by 081 272 0165 beskikbaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer