Die land is vir 'n bottel vodka verruil
Die land is vir 'n bottel vodka verruil

Die land is vir 'n bottel vodka verruil

Mandy Rittmann
JOHN FREDERICKS SKRYF:

Geen, maar geen verduideliking sal geregtigheid kan doen aan die manier en tydsberekening van die “verhuur” van die vier plase aan 'n Russiese magnaat nie.

Dit is vanselfsprekend dat die skuld en blaam nie voor die deur van die Rus geplaas kan word nie, maar die besluit om die intelligensie van die Namibiese nasie te onderskat en te verkrag, lê voor die deur van die regering. Die grafstilte en die geheimhouding van die transaksie, spreek boekdele oor die oneerlikheid van die regering, en hoe die regte van die grondlose Namibiërs vertrap, geskend en verpletter word, net om die vet salarisse van regerings­beamptes in lyn te hou.

Die opposisie het so 'n flou reuk van beswaar gelaat en het toe na die vleispotte teruggekeer.

Die intelligensie van ons mense is so vertrap, dat dit feitlik huilend snaaks is as mens luister na die reaksie en antwoorde van die politici oor die “verhuring” van duisende hektaar grond aan 'n nie-Namibiër. Die vodka moes sekerlik vrylik gevloei het toe die transaksie onderteken was, want geen nugterdenkende persoon wat die belange van die land eerste plaas, sou so 'n transaksie onder­teken het nie.

Die feit dat die transaksie kort voor die veelbesproke tweede nasionale grondkonferensie onderteken was, maak 'n bespotting van die vyf miljoen Namibiese dollar beraad. Dit blyk te wees dat 'n “government for the people by the people” 'n leuse is wat nog net in geskiedenisboeke aangeteken gaan wees.

Dit gaan enige nugterdenkende brein te bowe om te akkommodeer wat met die transaksie gebeur het - ook so ander persoonlikhede, soos mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, se pogings om die ooreenkoms te regverdig en te verdedig.

"Oom Calle" se reaksie was die laaste strooi vir my. Vir my was hy tot nou toe ten minste 'n stem van nugterdenkenheid. Die "vodka" was blykbaar vir hom ook 'n sopie te veel.

Dit is verder skrikwekkend en angsvullend as mens in gedagte moet hou dat die Chinese ook nog in die ry vir “grondverhuring” staan.

My droom en stryd vir 'n lappie grond waar ek my patats, mielies, uie, tamaties en kool kan plant en oes, is na sy peetjie. Om nie te praat nie van die vyf bokkies en tien skapies waarmee ek ook so graag met my aftrede wil boer om selfonderhoudend te kan wees. Dus, nie afhanklik van die staat nie.

Die droom en wens lê versnipperd. Lank lewe Count Pushkin!

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer