Die kuns van niksdoen
Daai blerrie Protestantse werksetiek darem maar.
Hoeveel mense ken jy wat net kan sit en niksdoen? Soos in niks. Soos in op die stoeptrap sit en voor hulle uitstaar, en nie omdat hulle depressed is nie – dit sou mos nou kroek wees.
Ék kan nie.
Selfs die aartsluies in my wêreld kry dit nie reg nie.
Nie eers Spruit kry dit reg nie, hoewel sy gereeld beweer sy doen “niks” nie, hulle doen “niks” by die skool nie, en sy en haar maatjies doen “niks” wanneer hulle by mekaar kuier nie.
Veral agter 'n toe deur word gereeld “niks” gedoen.
Wanneer ek sê ek het niks die afgelope naweek gedoen nie, bedoel ek ek het eintlik die skottelgoed gewas, huis skoongemaak, gestofsuig, wasgoed gewas, met die hond gaan stap, dalk brood en melk gaan koop, vir Spruit rondgekarwei, 'n “Sê Maar Net” geskryf, kos gemaak, gelees, dalk saam met Spruit op die banke rondgespring, haar met 'n skooltaak gehelp of nog 'n episode van Game of Thrones gekyk.
Dis my idee van 'n heerlike naweek van niksdoen.
Maar hoekom noem ons dit “niksdoen”? So asof nie een van daai aktiwiteite tel nie? Het mens dan net “iets” gedoen wanneer jy gewerk het, see toe was, aan een of ander uitmergelende sportgeleentheid deelgeneem het, 'n nuwe kar gekoop het of gebraai het?
Die Boeddhiste sê shink ku myo u, wat beteken “uit ware leegheid verskyn die wonderlike wese”.
Maar daai leegheid beteken nie heeltemal “niks” nie.
Meditasie is byvoorbeeld nie om aan absoluut niks te dink nie, dit gaan net daaroor om jou gedagtes te laat rondsweef in die oomblik. Of so verstaan ek.
Dit hoef ook nie te behels dat jy soos 'n yogi sit en “professioneel” mediteer nie – jy kan ook mediteer terwyl jy skottelgoed was. Miskien is “niksdoen” net om in die oomblik te wees – om nêrens heen te jaag en geen doel voor oë te hê nie.
Volgens Psychology Today is daar wel mense op hierdie planeet wat dit regkry om niks baie goed te doen – die Italianers. Wat hulle doen wanneer hulle niksdoen, weet ek nie. Seker pizza eet, wyn drink en slaap.
Volgens dié webtuiste behels niksdoen dat mens se aksies deur jou instinkte bepaal word, en nie deur roetine en “moets” en “behoorts” nie. Hulle noem dit la dolce far niente - the sweetness of doing nothing.
En die voordele daarvan? Wanneer jy jou afvee aan al die moets van jou daaglikse roetine, is wanneer jou ware self kans kry om na die oppervlak te beweeg. Jou ware gevoelens, sonder ego. So sê hulle.
Maar hoe de hel kry mens dit reg om jouself los te maak van jou worries oor jou kinders, jou geldsake, wat jy nog alles moet doen voor môre en of jou significant other nog lief is vir jou?
Miskien is die antwoord om jou troeteldier dop te hou.
Diere het die gawe om net te wees.
Hou bietjie dop hoe jou hond voor die hek sit en die straat dophou. Ure lank kan hy net sit of lê en die straat in staar, die hitte van die son voel, kyk hoe 'n blaar in die straat afwaai, lang gape gee, miskien opstaan en sy waterbak 'n paar lekke gee, dan weer op die grond gaan lê, strek, wag, kyk, lê, voel, wees.
As dít vir jou nie net baie moeilik nie, maar ook boring klink, is jy nie alleen nie.
Miskien moet jy dit net 'n keer of wat probeer en kyk of jy meer verfris voel as ná 'n naweek van rondjaag agter inkopies en sosiale geleenthede aan.
Dalk verras jy jouself.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie