Die Kaapse malgas
Die Kaapse malgas

Die Kaapse malgas

Tanja Bause
Die Kaapse malgas broei slegs op ses eilande waarvan drie aan Suid-Afrika se kus geleë is en drie langs die Namibiese kus by Lüderitz, naamlik die Mercury-, Ichaboe- en Possession-eilande.

Die malgas begin in Augustus of September broei wanneer hulle ’n eier gelê het. Beide ouers is betrokke by die uitbroei van die eier - wat tussen 42 en 46 dae neem. Die kuiken is swart, het geen vere nie en is blind. Hulle weeg sowat 70 gram, maar binne drie weke weeg hulle ’n derde van wat ’n volwasse voël weeg. Wanneer hulle agt weke oud is, weeg hulle soveel soos die volwasse voëls . Hulle behou dié gewig tot hulle sowat 95 tot 105 dae oue kuikens is.

Volwasse voëls is tussen 84 en 94 cm lank en weeg sowat 2,6 kg. Hulle het ’n vlerkspan van 171 tot 185 cm. Dit vat vyf jaar voordat hulle volwassenheid bereik. Tydens hul eerste jaar is malgasse heeltemal swart. Soos hulle ouer word, word hulle al witter.

Malgasse jag hul prooi deur in die water in te duik. Hulle het ’n aantal aanpassings wat hulle in staat stel om dit te doen. Hulle het geen eksterne neusgate nie. Hul neusgate is in hul bek geleë. Hulle het lugsakkies onder die vel in hul gesig en bors, wat die impak van die water versag. Hul oë is so geleë dat hulle binokulêre visie het sodat hulle afstande akkuraat kan skat.

Malgasse kan van ’n hoogte van 30 meter teen ’n spoed van 100 kilometer per uur in die water induik, wat hulle toelaat om dieper te duik as die meeste ander voëls.

Malgasse is gelys as kwesbaar omdat hulle ’n baie klein broei-area op net ses eilande het. Die oorbenutting van hul prooi deur visserye en besoedeling veroorsaak ’n voortdurende afname in die gehalte van die water om die eilande en hulle kos.

Kommentaar

Republikein 2025-10-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer