Die hoop beskaam nie
Almal het waarskynlik al die Hollywood-gesegde gehoor van moenie met kinders of diere werk nie.
En as hierdie inleidingsin bekend klink, is dit omdat ek so drie jaar gelede oor dieselfde onderwerp geskryf het. Mens sou dink ons het intussen geleer. Maar nee.
Ons het Sondag weer só gemaak: Die familiefotosessie (hoor Jaws-musiek in die agtergrond).
Soos die vorige kere, verwag ons dat een van die kinders nie gaan saamspeel nie. Daar is mos altyd een. Dit is immers ook uitgebreide en aangetroude familie wat aan dié sessie gaan deelneem, so enigiets kan gebeur.
Tog beskaam die hoop nie.
Ek en skoonsus bespreek al verlede jaar die dienste van ’n fotograaf. Nie te moeilik nie, daar is immers nou ’n (aangetroude) professionele fotograaf in die familie.
Maar eers, ’n vinnige trip down memory lane.
Met my dogter se heel eerste fotosessie was sy tien dae oud. Dit het nie fantasties verloop nie, want madam wou niks weet van slaap nie. So, daai oulike foto’s van die baba wat opgekrul en snoesig lê en slaap, het nie gebeur nie. Ons moes ’n tweede dag terug gaan.
Die tweede fotosessie was met die uitgebreide en aangetroude familie. Toe was Lala twee maande oud en sy het haarself dié keer veel beter voor die kamera gedra. Ons het een heerlike somersdag in die parlementstuine gaan foto’s neem en niemand het gekla nie.
Pragfoto’s.
Toe, drie jaar gelede, kuier Ouma Anna hier en ons reël ’n fotosessie vir die naaste familie, sommer by ons huis. Kleurskemas is bespreek, grimering is mooi, lippies is rooi. Maar ons prinsessie wat toe al vier is, wil net mooi niks weet van hierdie affêre nie. Einde laas, het ons darem ’n paar kiekies waar sy so effens glimlag en nie frons of huil nie.
Fast forward na 2020 en dis tyd vir ’n nuwe familiefoto, want sedert daardie laaste sessie in die tuine is daar vier nuwe gesiggies by (gelukkig nie myne nie) en daar is ook ’n nuwe swaer ingesluit – die einste fotograaf.
So, Sondagmiddag is dit sulke tyd. Ons moet 16:00 gereed en by die venue wees. ’n Woeste reënbui sak oor die hoofstad uit, maar ons Namibiërs dans mos graag in die reën.
Daar aangekom, begin prinsessie (lees drama queen) se wange opblaas. Sy is ontevrede oor alles: Die wind, die weer, die reën en die familie wat volgens haar “laat” is. Die kameras is opgestel, die beligting is reg, almal lyk mooi en ons begin pose – sonder die dikbekkie.
Uit die vier nuwe kleintjies, is dit net die jongste wat lag – as sy oom of pa soos malletjies rondspring. Die ander drie lyk vir eers soos die Grafsteensangers. Uiteindelik begin ons blaasoppie ontspan en kom sku nader.
Net toe ons reg is vir ’n tweede poging tot ’n uitgebreide familiefoto, lui skoonsus se pa se foon: Die treinspoor by Omeya het verspoel en uit die aard van sy werk moet hy die skade gaan kyk. Vinnig word die kamera-knoppie gedruk.
En toe gly kleintjie nommer 3 van ’n stoel af en kap haar kop. Gelukkig nie hospitaalsake nie, maar hard genoeg dat sy ook nie meer vir hierdie gefotonemery lus is nie.
Deur die drama deur hoop ons darem vir een of twee foto’s wat teen die muur kan pronk.
Ons hoop ook volgende keer (ja, ons sal dit maar weer aandurf), het die kleintjies al hulle geite laat staan.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie