Die hemel se Waagstuk
Elvira Hattingh
Ek weet, jy is met ’n feesmaaltyd en engelkore verwelkom. Die keer was dit op die hemel se Waagstuk, waar daar nooit weer droogte of weeskoedoes of jong-seuns-wegstuur-na-die-weermag sal wees nie.
Aan die tafel sit hulle – jou ma en pa, broers en susters, tannie Karin, Oom Willie, Oom Johannes en ook Oupa Seunie. Onder die groot ou skaduboom, met die son wat goud oor sy kroon stort. En die oorwinnaarskroon wat wag, daar waar jy moet gaan sit.
Dit ruik weer soos warm vetkoeke en na die rose – die keer in jou hemelse tuin - en die kinders klouter in die boomhuise. Woerts, af met die foefie slide, terwyl die lister die huis se ruite laat rattle soos hy soet plaaswater uit die diep, rooi grond pomp.
Oupa het meer as 40 jaar vir jou gewag. Hoe lieflik moes die herontmoeting net nie gewees het nie!
En jy vertel hom van sy agt kleinkinders en drie (amper vier) agterkleinkinders, wat hy nooit die voorreg gehad het om te ontmoet nie. En jy vertel vir hom van 88 genadejare en ook van 40 eensames, sónder hom.
Want jy het die goeie wedloop afgelê, liewe ouma, en jy het die wenstreep bereik. Jy het gelowig enduit volgehou en vir ons ‘n voorbeeld gestel soos min ander. Sola gratia, daar is ‘n fees en jy is weer tuis.
Jou laaste besittings, ietsie vir elkeen, het jy lankal reeds uitsorteer. Dit ruik steeds soos ouma, die fyn sakkie met die halsnoer uit Holland, pêrels, ‘n sysagte serp. ‘n Tafeldoek, stoele, boeke en stukkies uit ‘n koerant geskeer om te hou.
Ons groet op ‘n helder sonskyndag in vreemde tye, wanneer mense in hul motors sit om na ‘n roudiens oor luidsprekers te luister.
Daar is ‘n dolleë kamer in my hart, liewe Ouma Lenie, maar ek gun jou die ewige rus. Ek sukkel om te groet, ek sukkel met koebaai's, maar ek weet nie een van die laaste dae was maklik nie. Ek weet daar was baie leë, verlang-ure, maar jy was so dankbaar dat geen van jou kinders of kleinkinders ooit verbyry sonder om te kom inloer nie.
Ouma, jy het altyd die regte antwoord gehad. ’n Anker in die lewe se stormsee, iemand met soveel opregte belangstelling in en liefde vir ander. Jy het 'n enorme indruk op my lewe gemaak en jou heengaan skud my fondamente. Ek kan nie meer Sondae bel nie, die hemel het nie telefone nie.
Maar in die tassie van my hart pak ek al die lewenslesse oor om die reguit paadjie te stap, oor omgee vir ander, integriteit, dankbaarheid en eerlikheid – al is dit ook hóé moeilik.
Ek sê nederig dankie vir 33 genadejare waarin ek jou kon ken. Dankie vir jou onvoorwaardelike, onbaatsugtige liefde. Ons sal nooit vergeet nie – tot weersiens.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie