‘Die groot Baobab’ sneuwel

Een van die Mahango Nasionale Park se toeristetrekpleisters het ’n maand gelede omgeval.
Erwin Leuschner
Erwin Leuschner

Die boom wat as “die groot Baobab” in die Mahango Nasionale Park in die noordweste van die land bekend gestaan het, het ’n maand gelede omgeval.

“Dit is ongelooflik,” het me. Amori Gerber van die Shametu River Lodge gesê.

Volgens haar het hulle sowat drie weke gelede agtergekom slegs die stam en takke wat op die grond lê, het van dié groot boom oorgebly.

“Ons glo die boom is of deur weerlig getref of hy kon nie meer die sterk wind weerstaan nie,” het sy gesê.

Die boom was ’n groot toeriste-aantreklikheid, nie net vir Namibiërs nie, maar ook vir buitelanders.

Talle besoekers het foto’s by die boom geneem en hul name in die stam gekerf. Die boom is nie die enigste van sy soort langs die Cubangorivier nie, maar hy was sonder twyfel die grootste.

In Namibië is daar ’n handjievol baobabs wie se ouderdom op ongeveer 1 000 jaar geskat word.

Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, het die boom tussen 16 en 17 November omgeval. Hulle vermoed ’n sterk wind is daarvoor verantwoordelik.

“Daar was geen tekens op die stam dat dit weerlig kon wees nie,” het hy gesê.

Volgens me. Barbara Curtis, die ondervoorsitter van die Botaniese Vereniging van Namibië, is dit bykans onmoontlik om die presiese ouderdom van die boom vas te stel.

“Dit kan slegs met koolstofdatering gedoen word wat baie duur is.”

Die deursnee van die stam is op sewe meter geskat en die hoogte op 20 meter.

“Die omtrek van die boom is deur ’n kollega gemeet. Negentien leerlinge het armlengte van mekaar om die boom gestaan,” het sy gesê.

Ook sy kon nie sê hoekom die boom omgeval het nie.

“Die bome kan vrek as daar te min water is en olifante het ook die boombas beskadig, maar die boom sal dan nie oornag vrek nie.

Die laaste paar jaar het talle baobab-bome in die Nyae Nyae-omgewing gevrek. Dit is deur internasionale navorsers bevestig. In 2018 het nege van die 13 oudste bome gedeeltelik of heeltemal gevrek. Destyds is klimaatsverandering as oorsaak genoem. Die Glencore-Baobab in Suid-Afrika word as die oudste baobab geskat. Koolstofdatering het sy ouderdom op 1 835 vasgestel. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer