Die Gesin
Die Gesin

Die Gesin

Herman Beyer
In my vorige bydrae het ek gesels oor die Thimbukushu-woord “didhiko”, wat onder meer die betekenis “gesin” dra. Dit is interessant om op te merk dat die ander betekenisse van die woord te doen het met kos maak, die vuurmaakplek en 'n koker (vir kos gaarmaak). Hieruit word die intimiteit wat met die betekenis van “gesin” geassosieer word op 'n manier raakgevat. Maar waar kom die Afrikaanse woord “gesin” vandaan? Afrikaans het dit uit Nederlands geërf. Volgens etymologiebank.nl kom die Nederlandse “gezin” van die Middelnederlandse vorm “ghesinde”, wat rondom 1276-1300 voorgekom het met die betekenis “reisgeselskap, gevolg, hofhouding”.

Rondom 1290 ontstaan die geassimileerde vorm “ghesinne” (die “-nd-“ is vervang deur “-nn-“). Dit is 'n komplekse woord wat gevorm is deur die wortel “-sin(d/n)e-”, wat “reis” beteken (en wat moontlik met die moderne “send(ing)” verband kan hou), en die voorvoegsel “ghe-”, wat die betekenis “by, genoot” gedra het. Die woord het dus letterlik “medereisiger(s)” beteken, en wel veral met betrekking tot hooggeplaastes wat met 'n gevolg gereis het. Waar hulle dan aangedoen het, moes vir die betrokke BBP en sy gevolg, sy “ghesinde” voorsiening gemaak word. Later is die woord ook deur die laer klasse aangeneem (miskien Germaanse sarkasme?). Tot vroeg in die 20ste eeu kon die woord in Nederlands nog verwys na almal wat saam in een woning tuisgaan, dienspersoneel ingeslote. Des te interessanter dan dat die etimologie van “gesin” in Afrikaans met reis verband hou, terwyl dit in Thimbukushu met die tuiste verband hou.



Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer