Die geheim van lekkernye in die kerk
Mariselle Stofberg – Kerk toe gaan, is iets waarmee ek grootgeword het en is deel van wie ek is. Die meeste mense dink om in die kerk te sit, is net ernstig, maar van die snaaksste insidente in my lewe het in ’n kerkgebou gebeur.
Verlede Sondag kon ek nog so ’n herinnering op my lys voeg.
Ek en my ma sit in die kerk, heel onskuldig en wag vir die preek om te begin. ’n Gesin met kinders by die dosyne skuif by die bank langs ons in.
Oor die algemeen is ek baie lief vir kinders, maar ek kon sommer sien hier kom moeilikheid.
Ek ken nie die kinders se name nie, maar die jongste seuntjie het vir my soos ’n Pieter gelyk, want ek kon in sy oë sien hy geniet dit om ondeund te wees.
Klein Pieter (ek skat hom ses of sewe) het by die huis ’n handvol lekkergoed gegryp. Hy besluit toe om hierdie lekkergoed so stelselmatig deur die diens te kou.
Die probleem is egter die papiertjies van die lekkergoed. Gewoonlik raas dit nie só erg nie, maar probeer jy daardie papiertjies skelm in die kerk afhaal, is dit asof die geraas soos ’n atoombom afgaan.
Die klank raak oorverdowend, en hoe sagter jy dit probeer oopmaak, hoe meer raas dit.
Klein Pieter het dit ook besef, maar hy kon net nie ophou nie. Hy probeer die papiertjie afhaal, maar sodra hy agterkom iemand kyk vir hom, stop hy.
Ek probeer op die dominee fokus, maar elke keer as ek net begin fokus, hoor ek die girts-girts van die papier.
“Geliefdes, vandag gesels ons oor. . .”
Girts-girts. . .
“Die liefde ken geen perke. . .”
Girts-girts...
“Jou naaste soos jouself. . .”
Girts-girts. . .
Ek kyk vir Pieter en hy vir my en wraggies gaan hy voort. As hy ten minste vir my ook ’n lekker of drie aangebied het, kon ons saam geraas het.
As ’n bedrewe hand om lekkers in die kerk te eet, weet ek jy moet die papiertjies by die huis afhaal dan trek jy nie aandag in die kerk nie.
Dit laat my terugdink toe ek sy ouderdom was en ook my bes probeer het om stil in die kerk te sit.
Al probeer jy hoe hard, die harde kerkbanke maak dit byna onmoontlik om stil te sit.
Ek weet nie van julle nie, maar toe ek jonger was, was die kerk die laaste plek waar jy kon rusteloos raak.
Ons almal ken daai eerste knyp van jou ma. Dit sê vir jou jy het so pas jou eerste waarskuwing gekry en jy loop op dun ys.
Baie van ons was braaf. Baie braaf. Dus begin jy weer woel. Sodra jy die tweede knyp voel, weet jy daar sál ’n blou kol sit. Dié knyp sê vir jou jy moet reguit badkamer toe beweeg as julle by die huis kom, want jou pakslae wag vir jou. Jy wil mos nie hoor nie.
Die knyp was erg, maar daar is iets erger as die knyp of selfs ’n behoorlike pakslae in die moederskamer by die kerk. Dit is “Die Kyk”.
Ek is seker almal ken “Die Kyk” wat jou ma jou in die kerk gee. Die kyke van “Sit stil”, “Ek praat nie weer nie” en “Ons kyk wie lag as ons by die huis kom”.
Niemand kan tot in jou siel kyk soos jou ma nie, veral as jy besig is met iets onheiligs of iets wat die potensiaal het om openbare verleentheid te veroorsaak.
Met die soveelste girts-girts langs my sien ek Pieter se ma draai stilletjies om. Sy kyk vir stoutgat Pieter vierkantig in die oë en trek los met die kwaaiste kyk wat ek nog gesien het. Pieter is ook die gelukkige wenner van knyp nommer twee.
Hier kom moeilikheid en ek is bly ek is nie liewe Pieter nie.
Die les? Deel jou lekkergoed met die maatjies! Die Bybel sê mos, brood in die geheim geëet is lekker.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie