Die droogte se stiefkinders
Die droogte se stiefkinders

Die droogte se stiefkinders

Dani Booysen
Die droogte het ons krale leeggemaak. Ons moet nie agteroor sit nie, maar planne begin maak om onsself te help.

Die geld wat vir droogtehulp begroot was, sien ons nie 'n spoor van nie. As die regering ons trekkers en ploegapparaat kan leen, kan ons die grond gelyk maak en ons eie lusern, mielies, ensovoorts plant. Ek sit op vrugbare grond. Met 'n bietjie hulp kan ek vir myself verder help.

Maar waar is die mense wat ons gekies het? Hulle antwoord nie eens 'n oproep nie en is ook nie op hul kantore nie.

In die Noorde het ek gesien hoe die regering daardie boere help. Hoekom kan ons almal nie dieselfde ondersteuning kry nie, of praat ons "councilors" en "governors" nie in hierdie rigting nie?

Ek probeer my eie tuintjie ontwikkel, maar ek is 'n oumens wat maar ook swaarkry. Ons het wel reën gekry op sekere plekke, maar ons moet nou begin om planne te maak voor die volgende droogte. Ek is regtig baie hartseer oor die verliese tydens die droogte en ek dink dit sal net reg wees as ons "councilors" en "governors" op hul agendas sal plaas "die pad vorentoe".

Leen vir ons die implemente sodat ons die gronde kan bewerk. Deel vir ons op in groepe en help ons.

Die droogtehulp se kas is beslis nog vol, want al wat ek byvoorbeeld gekry het, was net mieliestronke.

Agbare streekraadslede en goewerneurs, doen iets asseblief, ons is julle eie mense. Ons kan ook nie "resettle" word nie en kry ook geen ander hulp nie, waar moet ons gaan?

Namibië is 'n klein land en ek glo nie dat dit vir die regering so moeilik is om vir ons, die handjie vol boere, te help nie. Ons kry ook geen inspeksie of besoek op ons plase van die regering se veeartse nie. Die vorige regering het dit gedoen. Ons onderhou alles op ons plase sonder die hulp van die regering. Waar en wanneer wil ons regering vir ons help? Help ons asseblief, ons verskaf ook werk aan ons medelandsburgers.

Ek vra baie nederig dat hierdie regering na ons almal moet kyk en nie net na sekere mense nie. Wat beteken "one nation, one Namibia" dan? Wat beteken "no one must be left out" as dit so moet gaan?

Ek voel soos 'n stiefkind. Dit het ek veral in hierdie droogte gevoel.

As jy byvoorbeeld 'n minister wil sien, moet jy 'n afspraak maak en soms eindig jou saak by die "reception". As daar wel na jou geluister word, is die antwoord "we will come back to you" en daarna word jy van bakboord na stuurboord gestuur tot jy maar later alles los.

Ek skryf hierdie goed uit my eie ondervinding. Dit is hartseer!

My oproep tot die "councilors" en "governors" is om vir ons op te staan, besoeke af te lê en te sien hoe ons sukkel.

Dankie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer