Die donkerste uur
Ek verstaan Namibië se paddas van onder vyf jaar oud kan nie een swem nie, want hulle ken nie water nie. Dis só droog hier, hulle het intussen glo vir korrespondensie- swemkursusse in China ingeskryf.
Grappies opsy; hierdie is inderdaad klipkou tye. En dit gaan nie net oor droogte nie.
Kyk ek na ons suidelike buurland, ys ek oor die skokkende geweld en misdaad. In Namibië is ons ook nie gespaar nie. Ons beleef die kwaaiste droogte in menseheugenis, ‘n wankelende ekonomie, werkloosheid, noem maar op.
Die wêreld brand.
Op persoonlike vlak sien ek ook swaarkry, ook onder mense ná aan my. Ek word self ook nie gespaar nie – die lewe gee soms gevoelige houe. Die afgelope tyd is ek opnuut, herhaaldelik aan die mens se verganklikheid herinner en daarmee saam aan ons magteloosheid, ons menslikheid.
Jy sou berge wou verskuif.
Jy wens jy kan help, maar jy kan dikwels niks meer as ’n simpatieke oor wees nie. Ons dink ons is in beheer, ons het ’n waan van selfvertroue – en dan bewys die lewe jou verkeerd. Daar is hartseer, kommer, sorge wat diep wonde sny. Soms verpletter dit mense.
Tydens die afgelope Windhoek-skou gesels ek met Landbouweekblad se veteraanjoernalis Charl van Rooyen.
Hy het stories oor ons woestynland se landbouprodusente kom skryf. Hy sê hulle maak allerhande planne met die droogte.
Hy sien hoop wink anderkant ons dorre, karkasbestrooide aarde. Ek hoop ons kan dit ook sien.
Dagbreek kom net ná die donkerste uur. Daarvan is ek oortuig.
Ek glo ook swaarkry dien ’n doel, want dit is juis dan wanneer jy jou krag ontdek. Die Groot Boek vergelyk beproewinge met ’n suiweringsproses, soos dié waarin goud geskei word van onsuiwerhede en ander metale.
Die suiwerheid van goud word met vuur getoets.
Ek is nie altyd seker hoe ek hoop kan gee nie. Wat ek wel weet, is dat die nag nie vir altyd kan aanhou nie. Iewers móét en sal die son weer opkom. Intussen moet ons staande bly en nie toelaat dat die nag se spoke ons vang nie.
My wens aan almal wat swaar dra, is: Mag jou uur nie nog donkerder raak nie. Ek hoop jy soek reeds na die eerste sonstrale – ’n mens kan ook kies om dit te sien.
En as jou uur nou baie donker is, onthou ook die omdraaipunt móét nader as ooit wees.
Neem ook die Hand en hande wat na jou uitgesteek word, huil die skouers nat wat vir jou gebied word. Daar is niks soos ’n vriend se helpende hand teen ’n moeë rug, of ’n arm om jou skouers wanneer jy moeg geloop is nie. Jy hoef nie alleen te dra nie.
Weet ook wonde genees en die reën, die reën kom altyd weer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie