Die dassie en die dam
Die Bella-sage duur voort. Ons gesin is beslis geseën met ’n hond wat elke dag ophelder, want daar is beslis geen tekort aan persoonlikheid nie. Elke dag is daar iets nuuts wat ons weer van voor af aan die lag het, en dié keer het ’n dassie en modder nog ’n storie aan ons verskaf om te deel.
Ons gesin het onlangs ons nuwe intrek op Elisenheim geneem en ons geniet elke oomblik. Die vrede, rustigheid en veiligheid is iets wat ons vir niks sal verruil nie.
Die natuur het egter ook gesorg vir nuwe verskynsels wat hierdie lawwe boerboel van ons nie ken nie. Dié keer is dit ’n dassie. Ek het al foto’s gesien van dassies, maar nog nooit met een in aanraking gekom nie en ons twee het beslis nog nooit een gehoor nie. Een middag is ek ge-tekkie en Bella geharnas en ons twee val in die pad om die nuwe omgewing te verken. Ons besluit om met ’n grondpad op te loop na die koppie, want hoekom nou nie? Dinge loop heel goed, tot ons en meneer Dassie mekaar teëkom.
Bella steek met al vier pote vas en daar staan sy soos Lot se soutpilaarvrou. Sy kyk vir dassie en dassie kyk vir haar. Bella is liewer vir haar teddies as enigiets in hierdie wêreld, en hier het sy ’n groot, fluffy teddie wat nog kan beweeg ook. Al wat ek bid, is dat meneer Dassie sal besef hierdie geveg is nie in sy guns nie en dat hy net saggies die bosse sal invlug. Ongelukkig is dié idee my nie beskore nie, want uit pure skok begin dassie skree.
En dit was die spyker in die doodskis, want daai onaardse geluid het my hond glad nie waardeer nie, en sy laat waai. Kyk, ek kan my man staan as dit moet, maar hierdie hond het my teen ’n berg opgesleep asof ek niks weeg nie. Hoe meer ek probeer stop hoe vinniger hol sy en hoe harder skree dassie. Ek is deur die doringbosse, oor die klippe en deur die blare.
Êrens het ’n skietgebedjie gewerk, want wonder bo wonder het dassie homself uit die voete gemaak en kon ons uiteindelik tot stilstand kom. My hart het in my keel geklop, my arms is lam en my tekkies is gaar, en Bella lyk of ons nog nie eers begin stap het nie.
’n Week of wat later besluit ons om hierdie rabbedoe-hond bloot te stel aan die wonders van ’n plaasdam. Ons stop by die dam, val-val uit die motor, want Bella sien net water en hier wil sy net speel. Die idee was om teen die water te staan en Bella die kans te gee om in die vlak watertjies te baljaar. Ons kan haar leiband nie losmaak nie, want al is sy liewer as lief vir mense, word sy bietjie jaloers as dit kom by ander honde, so dit is veiliger as sy haar harnas en leiband aan het. Weer eens het ek die hond se krag heeltemal misgis, want toe sy die water voel, was dit nag.
Een oomblik staan ek nog en lyk mooi, en die volgende oomblik lê ek op die naat van my rug in die damwater en modder. Toe Bella sien ek lê, besluit sy om net dieper in die water in te beweeg. Hoe meer ek spartel, hoe meer modder trek ek saam. Soos ek wil opstaan, gly ek net weer en begin die proses net van voor af. Toe sy uiteindelik klaar gespartel is, word ek ewe grasieus uit die water ook getrek. Hoe bedagsaam is sy nie? Een ding is seker: Dassies en modder is nie so eenvoudig soos dit klink nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie