Die dag toe ek my kind vergiftig het
Die dag toe ek my kind vergiftig het

Die dag toe ek my kind vergiftig het

Henriette Lamprecht
Dis Saterdagmiddag en by gebrek aan “Dial-a-Friend” in Namibië braai ek en Mejuffrou Tiener, my amper-13-jarige spruit.

Ek en Mejuffrou Tiener het nog altyd ’n hegte verhouding gehad, maar sedert ons na ’n land getrek het waar ons geen vriende of familie het nie, is ons Thelma en Louise. Twee chicks op ’n mission in die middel van die wilde woeste. Ons twee teen alles en almal – al die vreemde, nuwe goed waarvan ons niks weet nie: slange, akkedisse met gil-oranje koppe, dassies wat bedrieglik skattig lyk, en supermarkte met name wat jou laat giggel.

Ons mission is eintlik net om te oorleef tot betaaldag, elke maand, maand na maand, in ’n omgewing wat dalk ’n fraksie veiliger as Johannesburg is. Ons weet nie. Ons het ’n moerse kans gevat, ’n wilde sprong die wilde woeste niks in.

Soos Thelma en Louise, skiet ek en Mejuffrou Tiener op ’n missie deur Windhoek se strate in ’n fris voertuig wat ek skaars kan parkeer, en ek weet steeds nie hoe maak mens die ding se vensters toe terwyl die kar afgeskakel is nie – maar ons beweeg.

As jy nog nie Thelma and Louise gesien het nie, kyk dit, jy sal nie spyt wees nie.

Mejuffrou Tiener is Thelma: jonk, maer en mooi. En ek is Louise: ouer as Thelma en ek sal moord pleeg om haar te beskerm. Ek en Mejuffrou Tiener maak of ons vreeslik tough is, maar ons kan nie in hierdie land gaan piepie sonder om elke ding in die badkamer om te keer nie – nounou is daar ’n slang of ’n skerpioen of ’n geniepsige, cute dassie wat ons bloed soek. Maar ons het nie beskerming nodig nie, dankie, ons is mos onafhanklike vrouens. Bang vir niks (behalwe dassies).

In elk geval. Dis Saterdagmiddag en ons braai. Korreksie: Louise braai en Thelma verkeer vegetatief op die bank voor die TV soos dit ’n ordentlike tiener betaam. Die hoendersosaties maak oulike sisgeluidjies op die rooster en die biertjie gaan lekker af, maar die vuurtjie bly koud. Om die waarheid te sê, die vuurtjie is meer van ’n fragment van my verbeelding as enigiets anders. Maar Louise braai, want Thelma is honger.

Na wat soos vyf jaar se hongersnood voel, besluit ons ons kan nou maar eet. Die sosaties is mos nou al mooi pienk, so ’n pienkmelkie-pienk, en dit ruik baie lekker. Drie vir Thelma en drie vir Louise. Louise, omdat sy niks meer het om te bewys nie, vreet sommer al drie op. Thelma eet so twee blokkies van een toe sy besluit haar maag is nou vol. “Is dit dan nie lekker nie?”wil Louise weet. “Nee, dis baie lekker, my maag is net vol,” sê Thelma ewe hoflik.

Later die aand gaan ons rustig slaap, en drieuur die oggend , op die Heilige Sabbat, begin Thelma brul soos ’n Kalahari-leeu – hoe dit ookal mag klink. En sy hou aan brul vir die res van die Heilige Sabbat en ’n dag daarna. En dit was nie al nie, maar die res van die details sal ek maar liewer vir myself hou.

Thelma brul dat die trane loop, en ek huil saam, want ek het my kind vergiftig! My klein ou babadogtertjie vir wie ek liewer as myself is. En dit net omdat ek nie geduld het nie.

En die les wat ek geleer het uit hierdie opwindende episode in die lewe van Thelma en Louise? Louise moenie braai nie, en Thelma moet liewer langer op die bank bly lê, want die vet weet, ’n tekort aan geduld is ’n nare ding! Letterlik.

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer