Die dag by die dorpsdam
“Julle moet kom help!” Kleinsarel van oom Ouboet en Koos Windpomp van die koöperasie was uitasem toe hulle die kroeg binnestorm.
Kleinsarel het wild in die rigting van die dorpsdam beduie. “Dis, dis. . .” het hy gesukkel om sy asem terug te kry. Koos Windpomp het sy sin probeer klaar maak: “Dis die nuwe vrou. Sy, sy. . .”
“Ag Windpomp, praat en praat klaar,” het Hantie ongeduldig van agter die kroegtoonbank gesnou. Sy was besig om glase blink te vryf. Dit was Vrydag en die einde van die maand. Hantie het geweet daardie aand sou die hele dorp weer op die taverne toesak.
“Die Tiger Inn is nie 'n kroeg nie, dit is 'n taverne,” help Hantie mense graag reg – veral as hulle besoekers van elders is. “Kroeë verhuur nie kamers nie. Tavernes doen wel.”
Dit was 'n bedompige Vrydagmiddag toe die vrou asof vanuit die niet die kroeg binnegekom het. Hantie het kort-kort die dakwaaier se spoed aangestel, asof sy só probeer het om die klam hitte onder die lendelam tafels in te waai.
Die vrou het met 'n gehawende tas in die hand tot in die middel van die vloer gestap, die tas tydsaam neergesit en toe stadig met die onderpunt van haar bloes die sweet van haar gesig en nek afgevee.
Die Engelsman van die Spar en Kleinsarel het hulle snoekerstokke neergesit. Hulle oë skielik nie meer op die swart bal nie, maar op die vrou se bruingebrande maag.
Sy het nie soos die verveelde besoekers gelyk wat op hulle verbypad stilhou en vinnig inloer nie. Daar was iets aan haar wat gesê het sy is nie van 'n verbygaande aard nie. Dalk was dit die spore van moegheid aan haar jong lyf, asof elke spier gelate saamgestem het: tot hiertoe en nie verder nie.
“Ek sien julle verhuur kamers,” het sy vir Hantie gesê.
Kleinsarel het oor sy voete gestruikel toe hy vorentoe wou tree om haar met haar koffer te help. Die Engelsman het met 'n helpende hand gekeer dat hy teen haar val. Hantie het 'n sleutel van die rak agter haar gelig en gevra: “Hoe wil jy betaal?”
Daardie dag het almal in die Tiger Inn geweet Kleinsarel gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Hy het nie meer saam met die Engelsman snoeker gespeel nie. As hy inkom, het hy direk op die tafeltjie in die hoek afgepyl, sy hoed afgehaal en gaan sit. En dan het hy die deur dopgehou.
Die vrou het altyd om seweuur ingekom. Sy het naby die kroegtoonbank plaasgeneem en vir Hantie geknik om haar kos te bring.
Sy het niks voor ete gedrink nie. Eers as haar bord leeg was, het sy 'n tee bestel.
Kleinsarel het 'n paar keer onbeholpe probeer om 'n geselsie met haar aan te knoop. Sy het hom altyd net afgetrokke geantwoord en haarself dan beleefd verskoon, opgestaan en uitgestap in die donker.
Tot dié middag toe Kleinsarel en Koos Windpomp kom sê het daar is fout by die dorpsdam.
Sy het teen die watertoring uitgeklim, het Windpomp uiteindelik sover gekom om sy sin te voltooi.
“Nou vir wat dan,” wou Hantie nog weet, maar ons ander was reeds by die deur uit.
Toe hulle die draai vat by tant Kobie se huis aan die onderpunt van die hoofstraat, het hulle haar bo-op die watertoring sien staan. Die wind het haar dun rok teen haar bene vasgewaai. En toe het sy in haar knieë geknak, met haar arms agtertoe gestrek.
Sy gaan spring! Sy gaan wragtig spring,” het Windpomp verdwaas gesê.
Met 'n veerkragtige sprong het sy opgeskiet in die lug. Haar liggaam het 'n paar keer in sierlike bollemakiesies omgetol voor sy haar lyf reguit gestrek en die donker dieptes van die dorpsdam tegemoet geduik het.
Na 'n week het die polisieduikers hulle soektog gestaak.
Dié storie is aan my vertel in daai einste kroeg toe ek as jong joernalis by Beeld 'n hofsaak in die Oos-Transvaal moes gaan bywoon.
Soms wonder ek of Kleinsarel nog saans by die dorpsdam dwaal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie